Entertainment Katrienkie

Psalm 23 Uit Katrienkie

Onderstaande is ‘n uittreksel uit haar boek, Want die kiewiet maak weer nes.

My kind,

Ek is jou Herder, jou hart se Oppasser. Ek gee vir jou My vrede.

Wanneer jy moeg word druk Ek jou styf teen My bors vas, sodat jy kan rus.

Wanneer jy op die klip-paaie van die lewe uitgespoeg word, tel Ek jou weer op en sit jou op die pad wat Ek wil hê jy moet loop.

Wanneer daar dood of siekte of egskeiding of molestering of watter hartseer ook al oor jou pad kom, en dit vir jou voel asof jy stoksiel-alleen staan, hoef jy nie bang te wees nie.

Want Ek is by jou.

Ek vou jou toe teen die hartseer en bang en alleen wat jou soms wil oorweldig.

Wanneer Ek my hande om jou vou, is jy veilig.

Ek pak vir jou ‘n mandjie vol van My liefde en vreugde en vrede.

Ek nooi jou elke dag uit om stil langs My te kom sit en vir My te vertel wat jou pla.

En dan oorweldig Ek jou met My goedheid.

Ek wil die Huis wees waarheen jy hardloop as die lewe jou oorweldig. My arms is altyd oop vir jou. Ek

is altyd by jou, saam met jou.

Jy kan tuis wees by My, vir altyd en altyd en altyd.

Jou Herder.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *