Alternatiewe Anna

Alternatiewe Anna

Mense wat nie het nie diere het nie, se lewens moet maar baie leeg wees. Kyk nou maar net vir Old Man River en sy Toontjies. Man, daardie is nou a match made in heaven. Die hond verafgod die ou man wat op sy beurt weer dink dat as Toontjies gaan sit, die son ondergaan.

Sy slaap snags by sy voete, onder die komberse. Hoe sy dit verdra weet ek nie, maar sy doen. As OMR opstaan in die nag, is sy by. As iets beweeg in die nag, dan gil sy. Sy blaf nie, sy gil uit volle bors sodat selfs die dooies sal opstaan. Soggens as hy opstaan en terwyl die ketel kook word Toontjies uitgelaat om te gaan haar dinge doen. En as die bibberende brakkie terug inkom word sy opgetel en vasgehou en dan onder die komberse neergesit. Sy word in ge-tuck en die warm kombers moet aan wees sodat sy kan warm word.

Nou al hierdie is heel reg met my wat Anna is. Wat nie so lekker is nie is die feit dat OMR net sy eie koffie kan aandra want die ander hand hou vir Toontjies onder sy arm vas. So, ek moet my eie koffie gaan haal en OMR se beskuit aandra. Man, die bleddie brak is bederf. Wanneer OMR werk toe ry, sit sy voor die deur en howl tot gaan boude vries en dan storm sy terug bed toe. Sy gaan lê op sy plek en sug kort-kort baie swaar.

Vanaand as sy die kar hoor aankom dan raak sy histeries want haar Oubaas sal nou haar optel en dan hoef sy nie op die aaklige vrou staat te maak vir kos en water nie. Dit is werklik asof die brak vir my tong uitsteek as sy op OMR se skoot lê by die tafel. Maar nou ja, laat ek maar die vrede bewaar want ek is nie so seker hy sal my bo die brak verkies nie.

Nou weet jy, so ‘n ruk terug het ons gaan visvang. Dis nou OMR, Toontjies en die derde wiel wat ek is. By die dam is daar tent opgeslaan en kamp reg gekry terwyl madam op ‘n kampstoel sit en elke beweging van OMR dophou. Sy weet mos hy gaan nou vir ons ‘n dop ingooi en dan sy visstokke regkry vir die groot visse wat hy gaan vang. In teorie, verstaan?

As daai eerste lyne in die water land verander Toontjies in ‘n voor-moederlike wolf. Die wilde dier in haar word wakker en sy sit op haar kampstoel en hou daardie lyne stip dop. Haar koppie beweeg net so effens van een lyn na die ander en voor OMR nog kan sê “daar’s ‘n byt”, blaf sy en bewe van opgewondenheid want hier kom ‘n vis.

Elke keer as OMR die visstok op pluk dan staan sy reg om die visse self te gaan uithaal uit die dam uit. Man, en ook nie te lank nie of OMR beginne te katrol vir die vale en hy hardloop eers die kant toe en dan daai kant toe. Toontjies is met elke tree by en sy hou die geplons en gespartel van OMR en die vis met valk oë dop. “Hierdie is die moeder van alle visse!” skreeu OMR opgewonde en Toontjies blaf gillend saam.

Ja well, no fine, dink ek, hier kom Moby Dick aan die lyn uitgesleep. Volgens dit wat ek kan sien van hierdie vis gespartel is dat dit ‘n genuine groot vis is. Moby Dick, not so much. Moeder van vele, verseker. Die opgewondenheid is aansteeklik en ek wat Anna is doen my cheerleader ding hier van die kant af, sonder pompoms en sonder om ‘n druppel wyn te mors.

Naderhand is Jona se walvis so drie meter van die kant af en OMR beveel die skepnet nader. Wat ek in my opgewondenheid toe nou maar doen, sien. Nou, dit is net hier waar die pôpô die fan ge-strike het. En glo my, die keer was ek nie eens skuldig nie, nee.

In ‘n laaste poging om haar vryheid te wen spring hierdie vis bo die water uit en Toontjies laat vat, in die dam in. Haai, dit lyk asof sy op die water loop soos sy op hierdie vis afpeil, al gillend. Sy gaan Jona se walvis vir haar oubaas uitsleep droë grond toe, come hell or high water. So vir oulaas spring die vis en Toontjies tegelyk. Chaos breek los. Toontjies verdwyn onder die water, die vis verdwyn en OMR staan doodstil en kyk hoe sy droom vis wegkom. Sekondes lank, wat soos ‘n ewigheid voel… toe gil hy “Toontjies”! En storm die dam in. “Daai vis het my Toontjies gevreet! Ek gaan die bliksem doodskop!” skreeu hy en ek spoeg of sprak nie ‘n woord nie. Ek kyk net…

Man, en hy soek sy hond. Kop onder die water in, op vir asem, voel rond soos ‘n besetene en plons heen en weer deur die water terwyl hy vir Toontjies roep. Drama op sy ergste en ek los hom want ek maak ‘n video van die soektog en histeriese ou man.

Naderhand kom hy bedremmeld aangestap met ‘n lang gesig. “My hondjie is weg,” fluister hy en direk daarna “Toontjies, my Toontjies! Waar was jy? Oubaas het gedink die groot vis het jou ge-Jona!” en hy vryf die hond droog wat bibberend in die handdoek toegedraai sit.

My selfoon het in my sak in verdwyn en ek het nog ‘n handdoek gaan haal vir die sopnat Old Man River. Ek het lank – so 20 minute lank – met myself geworstel of ek die waarheid sal praat of hom vertel ek het die lewelose Toontjies op die kant gekry, CPR gedoen en haar weer aan die gang gekry. Well, die waarheid was net te juicy om nie te vertel nie, so ek het.

Sien, nadat Toontjies onder die water in verdwyn het, het sy so groot geskrik dat sy haar pote lam gehardloop het na haar stoel toe. Ek het net ‘n handdoek oor haar gegooi en niks gesê nie, net aanhou bly video maak. “Anna, jy het nie!” het OMR geskel.

“Die kinders lag histeries oor die video, né. Ek het dit maar op die familie groep gaan share. Want sommige dinge is net te snaaks en moet gedeel word…”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *