Alternatiewe Anna

Alternatiewe Anna

Daar heers ‘n koue oorlog in ons huis. Man, ek en OMR praat skaars met mekaar. En dit alles oor sokkies. Kouse, verdomde kouse wat weg raak tussen was en kas en nou kry ek die skuld. Ek is sommer skuins oor die hele petalje.

Sien, die ding het nou so gekom. OMR gooi sy vuil klere in die was. Ek vat dit en gooi dit in die wasmasjien en daarna gooi ek dit oor die draad en vou dit op as dit droog is. Ek is selfs so gaaf om dit vir hom kamer toe te dra. Maar nou het alle hel los gebreek want die sokkies raak weg. Hy sê hy gooi twee sokkies in die was en hy moet twee sokkies terug kry. Ek kry net een sokkie in die was: hoe moet ek twee terug gee.

Nou, hy sê ek lieg en ek sê hy lieg. Daar was nou al harde woorde (van sy kant af) trane en tantrums (van my kant af) maar dit los nie die sokkie dief sindroom op nie. Nou het dit so erg geword dat hy die vuil sokkies voor my moet tel terwyl hy dit in die wasgoed gooi. Ek tel die sokkies voor hom as dit gewas is en hy dit nou moet terug kry. En dit alles met sulke stywe ek-soek-moeilikheid-ruggies.

Man, ons is nou van tafel en sokkies geskei en die hele affêre wil nie end kry nie. Ek het nou al ‘n boekie oorweeg waar ons al twee teken met die oorhandiging van sokkies en weer teken met die ontvangs van die sokkies. Dit gaan beteken ek moet seker maak die wasmasjien vreet nie sy sokkies op nie en hy moet dit nie verloor tussen die kamer en die was nie.

Weet jy, hy het selfs al met ‘n draad al langs die wasmasjien se drom gevoel of daar nie sokkies in is nie. Sokkies wat so met die gespin oor die kant gegooi word en in niemandsland beland. Maar dit het nie gewerk nie want sy draad was te slap en die masjien te sterk. So, ons het op ‘n impasse te staan gekom.

Maar, dit is nie meer ‘n lekker speletjie nie. Ek is nou moeg vir gevegte oor sokkies en ek mis dit om vriendelik met OMR te wees. Ek is, met ander woorde, gatvol vir baklei oor sokkies. Maar nou ja, nieteenstaande, ek bly lief vir die ou dierasie. Ons gaan nou maar aan om sokkies te tel voor die tyd en na die tyd. Al wat kort is die bladskud om die onderhandelinge mee te conclude.

Gister besluit ek mos om orals in ons kamer skoon te maak sodat ek van al die beduiwelde dust bunnies kan ontslae raak. Ek is nie die wêreld se beste huisvrou nie, maar so once in a while sal ek meer as net die nodigste doen. Dit wil sê, ek maak onder die bed ook skoon…

En raai wat kry ek daar? Sokkies, baie sokkies in ‘n netjies hoop gepak. Verlore sokkies, vergete sokkies, stink sokkies, allerhande sokkies! Nou asseblief, dit is rêrig nie nodig om opmerkings te maak oor wanneer ek laas onder die bed skoon gemaak het nie.

Op my knieë, volmaan boude omhoog grawe ek vir sokkies onder die bed. Voel-voel met die een hand in die donker dieptes… en ek gil soos ‘n girl want iets het my gebyt aan my vingers! Vervaard gryp ek die flits wat op die bedkassie staan en flits soos ‘n maniak onder die bed in. van ‘n veilige afstand af, natuurlik. Skrik my volmaan af toe die blink ogies vir my kyk en knor.

Ek gebruik die besemstok om nog sokkies te probeer nader hark maar die besemstok word aangeval en gebyt. Naderhand is ek nat gesweet van die sukkel en ek dog so stuff this. En ek vee die reeds geredde sokkies terug onder die bed in…

Met OMR se tuiskoms sê ek so terloops dat ek die sokkies gevind het. “Seker in jou wasmasjien,” antwoord OMR snipperig. “Nee, toe nie. Maar hier, vat jou flits, gaan op jou knie en kyk onder die bed. En kry sommer alles daaronder uit,” sê ek ewe vermakerig.

Eers hoor ek die knor, toe die gil en toe die getjank. En ek vou dubbeld soos ek lag. Bedremmeld kom OMR met ‘n arm vol hond en sokkies uit die kamer gestap. “Skies, Anna. Toontjies het my sokkies gesteel omdat sy my bedags mis. Hier’s al die verlore sokkies,” sê OMR en hou die sokkies na my toe uit. “Aikôna, boetie! Nie so vinnig nie!” keer ek. “Tel eers al daai sokkies en teken in die

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *