Alternatiewe Anna

Alternatiewe Anna

Ek wat Anna is, dink ons moet Krismis skip hierdie jaar. Ons kan Nuwejaar dan sommer vinniger hou; dit aanskuif met ‘n paar dae en miskien dan Krismis hou daar iewers in Februarie. Let wel. Ek sê miskien.

Ek dink nie daar is baie mense wat uitsien na Krismis nie. Baie mense het geliefdes aan Covid afgestaan, stress het ander so afgetakel dat hulle nie eens meer mens voel nie, depressie, geldnood, hongerte, siek wees, moerig wees, paniekerig wees… ag die lys gaan aan en aan. Hoe doen mens Krismis shopping as jy nie die Krismis feeling het nie?

Jingle Bells kan nou Jingle Masks wees, All I want for Christmas is om al my people gesond te hou, Last Christmas, man jy kan ‘n horde dinge daarby sit. Old Man River sê hy soek “a mistress for Christmas” soos daai een song. Ek sê kwarantyn haar vir 14 dae. Maak seker sy’t nie Covid nie en stuur haar reguit kombuis toe. Ek kan doen met bietjie hulp. Sy kan vloere skrop, wasgoed was, skottelgoed was, gras sny en die kaste reg pak. Ek sal haar so laat werk dat sy elke aand sal sê: “Nie vanaand nie…”

Nou wil OMR weet hoekom ek so uiters fyngevoelig en nors is. “Nee, ek is nie nors nie. Nors begin nie om dit te beskryf nie! Meer bef… as iets anders. Fyngevoelig? Man, as jy net jou oë te stadig knip dan wip ek my volmaan en gaan sit iewers anders,” voeg ek hom toe. “Nou hoekom, Anna? Is jou anti-moeilikheid-soek pille al weer klaar?” vra hy ewe besorg. “Ag man, dit is net hierdie festive season wat my so onderkry,” probeer ek verduidelik.

Wat ek reken is dat die dokters en professore en slim kokkedore so saam met die Covid vaccine vir ons n bietjie Christmas cheer ook moet maak en dit so vinnig as moontlik vrystel. Nou, terwyl ek in hierdie diepe, donker bui verkeer, toe gaan daar vir my ‘n liggie aan. En die liggie skyn al hoe helder terwyl ek dink. Christmas cheer, Christmas spirit… en daar haak my kop vas. Spirit, spirits, nee skrap daai een, niemand kan die Blou Trein nou bekostig nie, maar word drank nie ook spirits genoem nie?

Yes! Dink ek so by myself, daai een kan werk. Vasbeslote plak ek die maskertjie oor my gesig en daar gaan ek, reguit dorp toe. In by die winkel, uit by die een in daai een in. Gelukkig is dit nog Donderdag en nie Vrydag nie, so ek koop wat ek wil koop en jaag huis toe asof die duiwel op my stert sit. By die huis gekom spring ek aan die werk en toe OMR later by die huis instap, is alles net mooi klaar.

“Anna, wat gaan hier aan?” wil hy weet. “Ek maak seker ons kry die regte Krismis spirit,” verduidelik ek hom. Die hele agterstoep hang vol flikkerende liggies, Krismis songs speel in die agtergrond en die tafeltjie lyk al te fraai met al die kaas en wyn. Man, nie te lank nie en ons is deur die eerste bottel wyn, wat so saam met die koekies en kaas en ander goed verdwyn…

Ag, nie te lank nie en ek voel beter, so asof die Krismis spirits my nou begin oorweldig. By bottel twee sings ek saam met die liedjies en as ek nie die regte woorde ken nie, maak ek sommer my eie op. Naderhand begin die Krismis spirits vir OMR ook toetakel en hy neurie eers saam voor hy begin saam sing. Ag te lekker, ons voel die Krismis spirit nou hard en duidelik hier in ons binneste… “Nog enetjie?” vra OMR. “Met eish, ja!” antwoord ek en ons wil ons doodlag. Sommer so oor die Krismis spirit en omdat ons bly is ons leef en ons familie is nog okay.

So saam-saam het ons mekaar ondersteun bed toe, die oorblyfsels van ons festive season gees vang net so gelos…

Baie bedremmeld, met erge wingerdgriep en die groot dors van 2020 het ons onsself kombuis toe gesleep die volgende oggend. Waar ons sag vir mekaar gefluister het en met geen harde geluide of onnodige bewegings koffie gemaak het. Leepoog, rooioog vra OMR later of ek nog die Krismis spirit het. “Ja, OMR,” fluister ek terug. “Die Krismis spirit is losgelaat uit die bottels uit maar ek voel dit nog. Hy sit nou met ‘n klein hamertjie en kap op die gevoeligste plek in my kop. Maar ek gaan nou die Krismis cheer vang. Net sodra ek beter voel…”

Geseënde Kersfees aan almal. Pasop net vir die Krismis spirit!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *