Optogte en Sjebeens

Alternatiewe Anna

17 April 2017
Alternatiewe Anna

Met alles wat nou so deurmekaar in ons land is, en die beplande optogte, onthou ek van die een keer wat ons ook ge-optog het.

Nou, ek verstaan die meeste van die tyd nie rêrig wat in die politiek of rugby aangaan nie. As Old Man River vir my sê “die land is in sy moer in,” dan is dit so. As hy my sê die rugby seisoen is uitgestel weens ‘n gebrek aan belangstelling, dan is dit so. Ewenwel, ek en hy het by familie daar in Sodom en Gemorra gaan kuier, maar ons het heeltemal verdwaal. As Old Man River sê ons het verdwaal, dan is dit so. Ek kyk dan gewoonlik maar rond vir slaapplek, ‘n bottelstoor en ‘n take-away. Nie sodat hy dit sal opmerk nie, nee, net so vir die wis en die onwis.

Nou, met die besoek het ons gery en gery en naderhand toe besef ons, hierdie is nie die rykmansbuurt nie. O nee, hierdie plek lyk meer soos ‘n bankrot buurt op steroids. Mense, en die volgende oomblik toe is ons op ‘n breë grondpad en reg voor ons is ‘n massa mense. En hulle swaai plakkate en skreeu allerhande goed en gooi klippe. En hier sit ons in ‘n bedremmelde ou bakkie en staar na hulle.

Stilte het oor die massas neergedaal. Alle oë op ons gevestig. Man, en toe strike dit my! Maak die beste van ‘n slegte saak. Sonder om te skroom, draai ek my venster af , klim halflyf by die venster uit, druk my vuis in die lug en skreeu: “Amanda!” Old Man River vang my drif en hang by sy venster uit, terwyl hy uit volle bors skreeu: “Soweto!” En daar’s die ys gebreek; good and solid. Een so ‘n windgat aktivis het tot so langs my venster gestap en gevra: “Eish, Mama, what did you say?” Waarop ek ewe dapper hom vertel dat ek Amanda geskreeu het. En weet hy dan nie dat dit ‘n struggle kreet is nie? Ek was so driftig dat ek sommer uit die bakkie geklim het om hom te verduidelik. Teen die tyd het ons toe nou al ‘n hele optog om ons…

En almal lag hulle gatte af vir ons. Nou wat is so funny, wil ek weet, so ontstig dat ek sommer self kan bakstene gooi. “Eish, Mama, is not Amanda. Is Amandla! And is not Soweto, is Awethu!” Ek lag toe maar saam. Van daar af is ons saam met ons nuwe comrades na ‘n sjebeen toe; hulle het daarop aangedring… Kyk, ons het ‘n struggle party gehad en naderhand was almal comrades, selfs Old Man River ook. Laat daardie nag het ‘n taxi ons begelei uit die township uit, tot daar waar ons moes wees. Met die instap slag in die grand family se huis in, snuif sy so die lug om ons: “Kom julle uit ‘n sjebeen uit?”

“Eish, Comrade, is right. Is Soweto, not Awethu. The struggle was very real…”

Leave a Reply