old man cartoon

Wie is Old Man River?

Alternatiewe Anna

6 Oktober 2015

Vele mense het my al gevra hoekom ek my oudste ou man Old Man River noem. My standaard antwoord is dat hy soos ’n rivier deur my lewe kronkel en altyd sorg vir ’n lafenissie. Dis nou vir die siel en die liggaam, let wel.

Kyk, ek wat Anna is, is nie die maklikste mens om mee saam te leef nie. My verbeelding hardloop soms met my weg en ek is ’n vier seisoene kind: lente met opstaan, somer by lunch tyd, herfs as ek my nie my sin kry nie en winter as ek my stert gewip het. Tussendeur is daar reën, wind, sneeu en hael ook nog… sommer alles in een dag. Maar vat my na ’n rivier toe en my siel is gevoed. So, ek het besluit dat as ek nie by ’n rivier kan bly nie, ek ’n man moet kry wat soos ’n rustige stroompie deur my lewe te kabbel. En ek het hom gekry, ’n man met growwe hande, ’n rustige stem en liefde wat deur my lewe vloei soos ’n rivier stroom.

Kom ek verduidelik. Lank terug was hy soos die Nyl rivier gewees. As die groot reën gekom het, het hy sy walle oorstroom en hy was vrugbaar. Jy kon maar ’n saadjie plant en die het gegroei. Vandaar ons baie kinders. Met die vuil doeke en tiet bottels saam het die rivier in my lewe van tyd tot tyd min water en baie klippe gehad. White river rafting was nie moontlik nie en die Amanzimtoti is min gesien. Soms het wilde woorde woes rond gevlieg en Bloedrivier het deur die huis gevloei

Soos wat ons kinders grootgeword het, was hy met tye of die Bot rivier of die Blyde Rivier. Soms het ons die koue waters van die Kaalrivier aangedurf en besef dat kinders die geneigdheid het om, net voor jy by die Kromdraai rivier kom, saam te wil swem. Wat ongemaklike vrae en verskeie onwaarhede tot gevolg gehad het.

Soms het ’n Modder rivier tussen ons gevloei en met baie arbeid het die rivier weer in die Mooi rivier verander. Nou, baie jare later, is Old Man River soms ’n net ’n fonteintjie. Maar, hy kan nog altyd my siel sus. Hy bied nog altyd water vir my siel en ’n lafenissie vir my lippe. Net soms wou ek hom opdam of herlei of partykeer sommer helemaal droog gelê het. En soms moet ’n mens wragtig deur ’n ton sand grou om ’n druppel water te sien opdam. Dis dan wat ek die volstruis eierdop wil nader sleep en die druppels wil opgaar om later my dors mee te les.

So, dis waar die naam Old Man River vandaan kom. Want hy vloei soos ’n rivier deur my lewe en sonder daardie kosbare druppels water sou ek lankal van die dors vergaan het….

Leave a Reply