Social

Oppi mens af…

Dit is soms die heel moeilikste ding op aarde om ‘n ma te wees. Mens kan alles vir jou kinders probeer doen en help, maar soms is daar dinge wat jy nie mee kan help nie. Dinge wat jy nie vir jou kind kan dra en sê: ek maak jou las ligter nie.

Hartseer is een van daardie laste wat ‘n ma nie kan dra nie. Sy kan dáár wees vir haar kind, maar sy kan nie sê gee my jou seer, ek sal dit vat nie. Maar ek kan chocolates en roomys aandra en hot chocolate met marshmallows en glitter op. En eet-sum-mores en Oreos en chips en biltong en wyn. Of tequila met ‘n sak suurlemoene en sout daarby. Daar is mos die gesegde wat sê as die lewe jou suurlemoene gee, maak lemonade. Ek sê bring die tequila en sout. En ja, as ek dan ‘n sak sout saam met my kind moet opeet, kan ons seker maar die sout afspoel met iets.

Huil is ‘n katarsis. Die sout trane was jou siel skoon en bring genesing, al is dit ook stadig. Hoe verduidelik ‘n mens vir jou kind dat jy elke bietjie hartseer saam voel? Elke bietjie desperaatheid en woede saam deurleef al is dit nie jou woede nie? Hoe verduidelik ‘n ma dat sy voel wat haar kind voel want daar is ‘n band wat sterker is as enige iets anders?

Hoe verduidelik jy al die goed terwyl jou kind so stukkend is dat jy nie dink jy gaan haar ooit weer reg aanmekaar gesit kry nie? Jy doen nie die verduidelik nie; jy is net daar. En al wat jy kan doen is om die Liewe Vader te vra Hy moet haar stukkend fix want jy is net ‘n ma en Hy is die Allerhoogste. Soos daar in Psalm 147: 3 gesê word: “Hy genees die gebrokenes van hart en verbind hulle wonde.”

Verder in die psalm: “4 Hy besluit oor die getal van die sterre en gee elkeen ‘n naam. 5 Ons Here is groot en magtig, sy kennis is onbegrens. 6 Die Here laat die hulpeloses weer opstaan, maar die goddeloses verneder Hy tot in die grond.”

Jy verduidelik ook nie hierdie psalm vir haar nie, want haar seer is te groot en sy is te stukkend om op enige iets anders te konsentreer. En dit is okay want dit is genoeg dat jy dit weet en vra vir hulp en genesing vir jou kind. Wees net daar vir jou kind. Dra chocolates en tequila aan en vreet daardie sak sout saam op want julle is nie alleen nie.

Psalm 93:2 “…en vas staan u troon van ouds af: U is van altyd af daar.” Jy is nooit alleen nie. Al voel dit ook so.

MC

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *