Katrienkie

HOUTHUISIES. . . VIR JOB

Uit Katrienkie

Onderstaande is ‘n uittreksel uit haar boek, Want die kiewiet maak weer nes.

Beste Job,

Die lewe het ‘n manier om ‘n mens oornag uit die veiligheid en sekuriteit van jou lewens huisie te skop, en jou hart uit te spoeg in ‘n flenter-houthuisie. Jy ken van houthuisies, nè Job. Een oomblik is jy rustig by die werk, en die volgende oomblik hoor jy jou hart se mens is dood. Een oomblik ry jy in jou motor, en die volgende oomblik word jy gekaap. Een oomblik is jy gesond, en die volgende oomblik lê jy terminaal in ‘n hospitaal. En so kan ek aangaan, nè Job? Een oomblik veilig in jou lewe se huisie, en die volgende oomblik stukkend in ‘n gelapte houthuisie. Houthuisies is maar effentjies en glad nie stewig nie, Job.

Houthuisies word gelap met stukkies sink en swart sakke. Houthuisies het koue sementvloere, en gate waar die wind deur loer. Ons houthuisies begin so dikwels met ‘n gesprek tussen Hom wat vir ons lief is, en die een wat ons wil vernietig. Jou houthuisie het ook daar begin, Job… Die duiwel wat met God gaan praat het oor jou, en God wat aangehou het om in jou liefde vir Hom, te glo. So baie maal dink ek oor daardie gesprek. As die duiwel nou met God gaan praat oor my, wat sal God sê? Hy weet ek is so baie lief vir Hom, maar Hy ken my vrese en my twyfel en my wonder en my vrae . . . Ek het nie jou geloof nie, Job. Die oomblik as die lewe my sekuriteit onder my uitruk, en my hart in ‘n ‘houthuisie’ uitgespoeg word, begin ek twyfel. Dan begin ek paniekerig rondhardloop en probeer ek self al die gate toemaak en lap. Dan vergeet ek partykeer van Hom wat vir my so baie lief is. As die duiwel met God oor my gepraat het, wonder ek wat God sou antwoord . . .

Terwyl jy daar in jou houthuisie gesit het, het jy met God gestoei, nè Job? Jou houthuisie-vriende het daar buite op die trappies gesit en jou houthuisie probeer verklaar . . . en jy het met God geworstel.

Jou probeer doof hou vir hulle verklarings en verwyte. En God het stilgebly. Vir 38 hoofstukke lank het Hy stilgebly. Wanneer mens in die lewe se houthuisies beland, skree God se stilte teen die stukkende sinkplate vas. Mens bid en bid en bid . . . en dit voel asof Hy van jou vergeet het. Jy baklei en pleit en onderhandel en smeek, maar God se stilte bly. Vir 38 hoofstukke lank het God stilgebly, Job. En tog was Hy daar by jou. Binne, in jou hart se houthuisie en buite, waar die storm so erg gewoed het.

Vir 38 hoofstukke lank het Hy jou kans gegee om jouself uit te woed. Vir 38 hoofstukke lank het Hy stil na jou geluister. En toe jou woorde en jou baklei begin moeg raak, Job, het Hy stil begin praat. Vir byna vier hoofstukke lank het Hy vir jou vertel dat Hy steeds in beheer is. Dat Hy die Een is wat grense stel aan hartseer en stukkend en trane, dat Hy die Een is wat met Sy mag die Skepping regeer. Dit is asof God nie genoeg vir jou kon sê dat Hy steeds in beheer is nie . . . al het dit nie vir jou so gevoel nie. Dat Hy by jou was, rondom jou, bokant jou . . . om jou te beskerm, om jou vas te hou . . . omdat Hy lief is vir jou, Job. Dit is asof Hy vir jou wou sê: “Ek is nog steeds hier, Job.

 

Hier in jou houthuisie. Ek is nog steeds in beheer, al verstaan jy nie alles nie. Ek is die Een wat die laaste sê het. Vertrou vir My, Job.”

Wanneer die lewe jou hart in ‘n houthuisie uitspoeg, raak mens bang en onseker, Job. Ons raak verstrengel in vrae en argumente oor gebeure wat ons hart stukkend gemaak het. En iewers, êrens kom ons op ‘n punt waar ons ons hart gaan bêre. Bang vir nog meer seerkry. Ons raak stil en eenkant.

Ons sluit mense uit. Ons steek ons harte weg vir die wêreld daar buite. Toe jou houthuisie-vriende probeer het om jou hartseer te verklaar, wou jy ook ‘n paar maal jou hart gaan bêre het, nè Job?

Maar genadiglik het jy nie. Jy het jou hart vir God gevat, dit aanhoudend vir Hom gewys, met Hom baklei, voor Hom gehuil, stil by Hom gesit. Jy het geweet waar jou hart veilig is, nè Job? As jy jou hart vir Hom weggesteek het, sou Hy nie Sy hart vir byna vier hoofstukke lank vir jou kon wys nie. Sy hart van liefde en omgee en troos en daar wees. Iewers, êrens word elkeen van ons in die lewe se houthuisies uitgespoeg, Job. Hier in jou houthuisie het Hy vir my kom wys dat Hy altyd daar is . . . al skree die stilte teen die sinkplate vas. Hier, in jou houthuisie het Hy vir my kom wys dat dit okay is om te baklei en te huil en te worstel. Al raak Hy stil, beteken dit nie Hy is weg nie. Sy arms is altyd om my, al voel ek dit nie. Dankie dat ek vir ‘n oomblik in jou houthuisie kon kuier, kon leer dat ek nooit my hart vir Hom hoef weg te steek nie. Dat Hy in elk geval my hart ken . . . want Hy is oneindig lief vir my.

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *