Alternatiewe Anna

Alternatiewe Anna

As daar nou een ding is wat my eindeloos fassineer is dit hierdie kos programme. Soos Top Chef en American Barbecue en Sugar High. Dit fassineer my dat mens twee slaaiblare en een stukkie vis met druppels sous oral, behalwe op die vis, kos kan noem. Ek is seker Old Man River sal so geaffronteerd wees as ek vir hom, ‘n hardwerkende man, so iets kan gee vir aandete.

Aandete is vleis, rys, aartappels en twee groentes. En nagereg, baie soet en ‘n groot porsie met ekstra stroop oor. Ek sê hom nie as ek nagereg gemaak het nie anders is sy groente kwansuis nie lekker nie. Dit net omdat hy ‘n poeding-vraat is. Maar nou ja…

Maar anyway, ek dwaal af. Ek leer nuwe name, soos amuse-bouche wat beteken “to amuse the mouth”. My vertaling in goeie Afrikaans: Bek-prikkel. Au jus verwys na vleis wat in hulle eie juices gaar word, met ander woorde, ou sous. Flambé is een wat ek goed ken; te veel rum laat die kos in vlamme opgaan. Jeroboam verstaan ek ook baie mooi want ek verstaan van groot bottels wat amper 3 liter wyn kan hou. Maar let wel, ‘n Keller prinsie of papsak is nie die fancy woord jeroboam nie. Nee, dis dop vir ‘n knellende budget.

Die Franse se term vir eier, oeuf, is ‘n baie goeie woord vir gekookte eiers vir padkos. Mens sê soms oeffff as jy hom skil en weer oeffff so ‘n rukkie nadat jy hom geëet het. Veral in die bedompige spasie van ‘n klein karretjie op ‘n lang pad in die Vrystaat se winter. Dan verander mens in Vol-au-Vent…

Nou, ek kan die klein happies verstaan as dit ‘n sewe-gang maaltyd is. Mens kry sewe keer om te hoop die volgende fine dining experience is bietjie meer as die vorige een. Ek is seker dit sal my maag weerhou van grom geluide maak tot ek by die naaste take-away slap tjips en vis kan koop.

Nou ek en OMR het gesels oor die hele gedoente van fine dining. OMR sê sy idee van fyn eet is as jy mashed potatoes gekry het of vis en jy moet fyn kyk om nie ‘n graat in jou keel te kry nie. Hy reken ook dat mens nie ‘n bord vuil mors deur net een stukkie iets daarop te sit nie. “Gebruik ‘n piering of iets dat dit nie so leeg lyk nie,” stel hy voor. “Kyk, ek reken die kos is of heerlik of so mooi dat dit oneetbaar is. Miskien is ons net te kommin om die gedoentes te verstaan,” sê ek vir OMR.

“Ja, miskien moet ons dit een keer probeer,” laat hy van hom hoor. Wat ek toe nou kop toe vat en ek doen vervaard navorsing oor die top restaurante. Man, en ek val amper op my rug van skrik. Die pryse vir hierdie menu dégustation begin by R1300 en R3500 per persoon. Nee, werklik, ek wil nie jou restaurant koop nie, boetie!

Daardie aand vertel ek vir OMR en hy snak na sy asem. “R3500 per persoon? Vir ons twee sal dit R7000 kos vir een bietjie tasting menu? Nee wat, Anna, dit is ons hele maand se groceries. Ons sal nie gaan proe aan kos en so baie betaal daarvoor nie,” laat hy van hom hoor en ek stem heelhartig met hom saam. Daai geld koop baie kos vir ons twee.

Later die aand wil OMR weet of ek teleurgesteld is omdat ons nie kan gaan nie. “Nee man! Ons sal in elke geval nie alles verstaan nie en ons name gat maak in so ‘n plek,” stel ek hom gerus. “Ek reken ons bly maar net hier by die huis en eet disgustingly lekker kos hier by ons-selwers. Dit maak nie saak of die kos en wyn clash nie. Geen maaltyd, of dit nou bully beef uit die blikkie is of ‘n driegang maaltyd, kan ooit aaklig proe as jy dit eet saam met die mens vir wie jy die liefste op aarde is nie.” Fine dining: Done and dusted!

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *