Entertainment

Oppi mens af…

Hoeveel keer in ‘n mens se lewe kom jy te staan voor dinge wat onoorkombaar lyk? Soos in, hoe nou, Liewe Vader? As dit by mens se kinders kom en die probleem lê daar, voel mens eers mateloos magteloos. Gebreekte harte, stukkende knieë, nerfaf arms, kop wonde, woede uitbarstings… dit alles is deel van ouers se daaglikse doen.

Die gebreekte harte is nogal ‘n moeilike een om uit te sort. En moenie vir my vertel dat dit makliker is vir seun as vir dogters nie. Vir al twee is dit maar ewe moeilik. Groepsdruk is nog ‘n lelike ding wat jou kinders stukkend agter los; so sonder skroom of rede. Ons verstaan nie altyd nie want ons is n heeltemal ander generasie, maar dit is nie te sê ons probeer nie.

Deur die jare het ons help grootmaak aan ander mense se kinders. Ons laslap-kinders. Kinders wie se ouers hulle nie eintlik wil hê nie, af vlerk voëltjies wat ons kinders saam gesleep het huis toe. Soms het dit maar broekskeur gegaan met die ekstra mond om te voer, maar ons is daardeur.

Party van hierdie laslap-kinders het gekom, gebly vir ‘n ruk en dan weer hulle pad gevind in die wye wêreld in. Ander het weer en weer terug gekom. Soms bly hulle weg vir maande en dan net skielik op ‘n dag laat weet hulle: “Ek wil huis toe kom, Ma.” Dan weet jy by voorbaat dat die mat onder daai kind uitgeruk is en hy plat geslaan is.

Nou hoe maak mens as jou kind wat nie jou kind is voor jou deur staan met net die klere aan sy lyf? Hy’s gehawend en honger en vuil want hy slaap nou al ‘n paar dae op straat. Hy’s honger want daar is nie geld vir kos nie want die crystal meth eet die geld op. En hy weet nie waar sy klere is nie. Want al wat saak maak is die volgende hit, die volgende score wat jou alles laat vergeet.

En jou hart breek in duisend stukkies en jy huil snot en trane na binne maar jy’t ‘n smile op jou gesig en jy laat daai kind terug in die huis in kom. Jy voer hom, jy vra orals vir klere wat hom sal pas en bid die mense om jou sal oophand gee. En hulle doen, hulle gee oophand sonder om te vra en teen die tyd wat jy jou laslap-kind klaar kos gegee het en koffie en hy is nie meer so hoog soos ‘n kite nie is daar klere en hy kan skoon kom.

As ma van voorbeeldige kinders wat gebalanseerde grootmense geword het met kinders van hulle eie, besef jy skielik jy weet nie van hierdie dinge nie. Dis nie in jou verwysingsraamwerk nie. En jy bel ‘n mens wat reeds die paadjie geloop het en wat nou ‘n berader is en jy vra wat moet ek nou doen? Tussendeur maak jy notas in jou kop en volg die raad en hoop vir die beste. Nee, jy bid vir die beste.

Want staan daar nie in die Bybel geskryf “watter vader onder julle sal sy seun brood vra, en hy sal hom ‘n klip gee; of ook ‘n vis, en hy sal hom in plaas van ‘n vis ‘n slang gee; of ook as hy ‘n eier vra, hom ‘n skerpioen gee?” Diep in jou hart weet jy dat jy jou bes gaan doen vir hierdie kind wat joune is maar nie jou eie is nie. Jy gaan hom nie klippe gee as hy brood vra nie, ook nie ‘n slang of ‘n skerpioen nie. Jy gaan hierdie pad stap saam met hierdie kind wat in jou hart bly, come hell or high water. Want jy stap nie alleen nie…

“Wees sterk en vol moed; wees nie bevrees en word nie verskrik vir hulle nie; want dit is die Here jou God wat saam met jou trek; Hy sal jou nie begewe of verlaat nie.”

En daarvoor sê mens net dankie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *