Uit Katrienkie
Onderstaande is ‘n uittreksel uit haar boek, Want die kiewiet maak weer nes.
My kind,
Ek ken jou. Ek weet nie net van jou nie. Ek neem nie net kennis van jou nie. Ek is nie net bewus van jou bestaan nie.
Ek KEN jou.
Ek weet wanneer jy gaan sit. En Ek weet wanneer jy opstaan. Ek weet wanneer jou loop moeg raak.
Ek is daar. Ek ken jou gedagtes nog voordat jy hulle dink. Ek weet van die kere wat jy sukkel om te
fokus. Ek weet van die kere wat jou gedagtes maal en maal. Ek weet van al jou wonder oor goed wat
jy sukkel om te verstaan.
Ek KEN jou.
Ek ken die pad wat jou voete loop. Ek bepaal daardie pad. En as hulle verkeerde koers inslaan, is dit
Ek wat jou omdraai en jou weer op die regte pad sit. Ek weet wat jy gaan sê, nog voordat jou lippe die woorde kan vorm.
Ek is onder jou, voor jou, agter jou, bokant jou, rondom jou. Altyd.
Ek weet wanneer jy probeer weghardloop vir die lewe. Daardie tye wag Ek vir jou om jou op te tel as
jy moeg gehardloop is. Ek weet waarheen jy vlug as jy moeg raak. Ook daar wag Ek vir jou. Sodat ek
jou styf kan vashou en jou kan help om die lewe weer in die oë te kyk.
Nog voor jou geboorte het Ek jou beplan: Elke beentjie in jou liggaam is met soveel sorg deur My
gevorm. Ek, wat die Heelal gemaak het, het gejuig toe Ek jou geskep het. Ek het elke dag van jou lewe in my Boek opgeskryf, elke stukkie pad wat jy sou loop, is vooraf bepaal. Doodeenvoudig omdat Ek vir jou so baie, baie lief is.
Ek KEN jou.
Ek ken die pad onder jou voete. Ek stap die pad saam met jou. Altyd.