Alternatiewe Anna

Alternatiewe Anna

Met kinders saam kan mens nooit seker versigtig genoeg wees nie. Maar die ding is hoe om sekere goed aan knee-high kinders te verduidelik sonder om hulle te scar for life. Of dat hulle in hulle vroe 20s of 30s besef ek is getraumatiseer deur iets wat my se ma gesê het. Dit is mos fashionable om issues te hê. Dan kan jy ook loop en vertel ek en my sielkundige is besig om deur my sielkundige letsels te werk wat deur my ma veroorsaak is.
Dadelik word die ma gesien as ‘n monster wat ondenkbare dade gepleeg het en wat sommer summier tereg gestel moet word. En al die tyd al wat jy probeer verduidelik het is moenie sweeties by vreemde mense vat nie en wees versigtig vir te vriendelike omies en tannies. En moenie alleen in die bosse loop nie want daar is slange en bobbejane en luiperds en goeters wat byt. Weet jy hoe hierdie tipe onskuldige raad buite konteks verwrong kan word?
Maar anyhow. Only son was so 4 of 5 gewees toe ons op die plaas gebly het. Ek het so ‘n ou skorro-skorro gehad waarmee ek kon rondry. Die deur het nie toegemaak nie so jy’t hom sommer onder jou arm vasgeknyp en gery. No problems want die aarde was toe nog woes en leeg en spietkops nog menslike mense en nie assholes nie. Maar daai is nou weer ‘n veralgemening en party is nog nice people. Sien, daar’s ek al weer van my tokkie af.
Nou sien, die dag is ek en only son en eldest daughter na ‘n familielid toe wat nie te ver van ons af gebly het nie. Ons het nie rêrig oor en weer gekuier nie want ek het gereken sy is ‘n los vrou en sy’t gereken ek is onbeskaafd. Maar ek moes soontoe en laai my vuil kinders wat buite gespeel het (toe kon hulle nog!) in ou Susaartjie en daar gaat ons: deur onder die arm en twee vuil kinders wat baklei.
Daar aangekom wil Only Son niks weet van uitklim nie. Ek los hom toe maar in ou Susaartjie want dis plaas en veilig genoeg. Eldest daughter sleep ek saam want ek wou nie hoor hoe gil en baklei hulle as ek my rug draai nie. Alles goed en wel en ek gesels toe nou maar met die vroulike familielid terwyl sy koffie maak.
Ag man, ek was so halfpad met my koffie toe ek Only Son se eerste woedende gille hoor. En daar storm ek na buite om te sien of die ‘n roofdier of ‘n trop ape is wat my kind aanval. Reg om te baklei want ek is ‘n ma en ma’s is altyd reg om hulle bloedjies te beskerm al was die klein bliksempie 2 minute terug so stout jy wou hom self doodslaan.
Buite gekom kyk ek en kyk maar ek sien net ‘n verskrikte man wat doodsbenoud so 5 meter van ou Susaartjie af staan. Toe Only Son my sien begin hy van voor af gil terwyl hy sy arms soos ‘n windmeule swaai. Kort-kort sien jy hoe ‘n modder poot ook skop om die gevreesde aanvaller te probeer weg hou. Voor ek nog kan vra wat gaan aan, gil hy weer: “Mamma, hier’s ‘n vieslike filofiel! Hy het met my gepraat! Voetsek filofiel, voetsek!” skreeu hy en die trane maak sulke strepe oor sy gesiggie.
Onmiddellik is ek woedend en stap op die arme man af. “Wat het jy aan my kind gedoen?” wil ek weet terwyl ek hom opsize om te sien of ek hom sal kan donder met die vuis. Hakkelend verduidelik die bleek verskrikte man dat hy net vir die seuntjie wou hallo sê en die deur van die bakkie wou toemaak want hy was bang die kind val uit en kry seer.
Nou ja. My woede het verdwyn soos mis voor die son, ek het my arme kind gekalmeer en verduidelik die oom wou net help. Ek en my gebroedseltjies is daar weg voordat ons verder kon skade aanrig want die omie was die nuwe boyfriend gewees wat by die vrou kom kuier het.
Al die pad huis toe het ek gewonder oor hoe ek die kinders gaan verduidelik dat alle vreemde mense nie filofiele is nie. Party is goeie mense wat net vriendelik is. Maar my grootste uitdaging was egter om die kind te leer dis pedofiel en nie filofiel nie. Korrekte uitspraak is mos belangrik, of hoe?

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *