Entertainment Katrienkie

Die lewe se musiek

Uit Katrienkie

Ons is bevoorreg dat Katrienkie vir ons toestemming gegee het om van haar bundels se skrywe in ons koerant te gebruik. Onderstaande is ‘n uittreksel uit haar boek, Want die kiewiet maak weer nes.

Vanoggend was een van daardie dae agter die kerk se orrel . . . Mens kry mos maar sulke dae wat jou hande en jou voete net nie wil saamwerk nie. Enige een wat kerkorrel speel, sal weet mens se voete en jou regterhand werk altyd perfek saam. Maar sit nou net die linkerhand by . . . dan begin die ‘sports’. Mens se linkerhand en voete wil nou maar eenmaal nie saamwerk agter ‘n orrel nie.

Toe ek nog op hoërskool was, het ek van die lewe se belangrikste twee lesse by my musiek juffrou geleer.

Eerstens: Jy stop nie in die middel van ‘n stuk nie . . . jy maak klaar, met foute en al, en al is dit net met een vinger. Maar nooit mag jy stop nie. Tweedens: Los jou linkerhand. As jy so verstrengel raak in die note, is dit partykeer wys om net jou linkerhand van die note af te haal, sodat jou voete en jou regterhand net weer kan koers kry. Die musiek sal nog steeds aangaan.

Ek onthou een spesifieke dag wat ek gespeel het, en naderhand so vasgevang was tussen die spul note, dat ek vir ‘n oomblik nie meer geweet het waar die musiek begin of ophou nie. Ek onthou hoe my hande en voete begin bewe het, ek onthou hoe die gemeente ongemaklik begin opkyk het orrel toe, ek onthou hoe naby ek aan huil was. En ek onthou hoe my Musiek juffrou stil langs my ingeskuif het, en sag vir my gesê het: “Los jou linkerhand, Poppedyntjie, los net jou linkerhand tot jy reg is.” En terwyl my regterhand en voete weer hul plekkie op die musiek gekry het, het sy stil saamgespeel, die linkerhand se deel, sonder dat iemand geweet het.

Hoekom wil ek hierdie vandag met jou deel? Dalk omdat ek my musiek juffrou se lesse so dikwels in my eie lewe moet toepas. Die lewe sit mos elke dag ‘n stukkie musiek voor jou neer . . . party se lewens note klink vals en onspeelbaar seer en moeilik. Ander kry weer ‘n makliker stukkie musiek.

Maar almal van ons moet ons stukkie speel in die lewe se orkes. En hierdie tyd van die jaar raak ‘n mens moeg. Vir so baie van ons was dit ‘n moeilike jaar, vol stukkies seer en bang wat orals op ons pad kom lê het. En so baie dae voel dit asof ‘n mens verstrengel raak in die lewe se eise . . . soos ‘n spul deurmekaar note wat elkeen vra om gespeel te word.

As die lewe vandag vir jou te vinnig en te veel voel, as jy bang raak vir die laaste stukkie van die jaar wat voorlê, die laaste paar note wat nog gespeel moet word . . . luister mooi, dan gaan jy Sy stem hoor wat sag vir jou sê: “Los maar vir ‘n oomblik jou linkerhand, my Kind. Jy mag maar effentjies-effentjies aangaan, totdat jy weer genoeg krag het om voluit te speel“

Jy is MENS. Jy mag moeg raak en foute maak. Hy verstaan. Jy mag oorweldig raak deur als wat nog gedoen moet word. Jy mag maar vir ‘n oomblik met jou kop teen Sy bors rus en Hom toelaat om verder te speel, totdat jy weer kans sien om voluit in te val. Moet net nooit ophou speel nie. Maak hierdie jaar klaar, al is dit net met een hand op die klawers. Hy sal die musiekmaak. Altyd.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *