Alternatiewe Anna

Alternatiewe Anna

Ons is al amper weer by Krismis, so vinnig het die tyd gevlieg. En soos die gebruik nou maar is, vra almal vir donasies by arm mense om vir armer mense ‘n Krismis boks of iets te kan gee. Daar is bokse vir kinders, bokse vir wit plakkerskampe, bokse vir honger mense… Om nie eens van die diere te praat nie: gee die kat ‘n kalkoen vir Krismis (nie rêrig nie; al die KKK sê net so lekker. Soos Klu Klux Klan of iets) en korrels vir honger honde. Ag, die lys is eindeloos. Nou wat die ergste van alles is, is dat mens nie rêrig iets kan gee nie en dit veroorsaak skuldgevoelens wat slapelose nagte veroorsaak en wat beteken ek moet die dokter gaan sien vir slaappille wat soveel kos dat ek iets in elke boks kon sit en nog change kon huis toe vat. Dan het ek nie slaappille nodig gehad nie want ek kon iets gee.

Ek is seker ek is nie die enigste een wat so voel nie. Jou hart gaan uit na al die nood toe, maar jy voer liewers jou eie familie voor jy gee. Naar maar waar. Nou, so met al die wroegings saam sien ek toe nou hierdie advertensie vir bloedskenk. Nou dit is iets wat mens maar kan gee want dit kos jou niks behalwe bietjie moed en bietjie bloei. En -nou die is baie belangrik! – jy kan ‘n lewe red en iemand kan nog Krismis hou daarna in plaas van begrafnis.

Anyway, so gesê so gedaan. Ek tree Old Man River aan en vertel hom hy gaan nou ‘n rivier bloei vir ‘n good cause en hy moet aantrek. “Wat bedoel jy Anna? Ek gaan waar bloei?” wil hy bekommerd weet. Nou ek weet dat as hy weet wat ek beplan hy homself in die badkamer gaan toesluit met sy foon en eers môreoggend daar uitkom. “Toe, toe!” por ek hom aan en met ‘n “Onthou jou mombakkies,” is ons toe nou daar weg. Reguit om te gaan bloei vir Krismis.

Daar aangekom wil-wil hy skeef trek maar een van sy broeders sien hom en vra kliphard of OMR ook kom bloei het. Nou hier word OMR twee skakerings ligter maar hy hou pose en sê toe maar ja. Binnekant gekom lê die mense op bedjies en bloei en OMR reken my toe dat hulle baie besig is en ons moet later terug kom. Ek kap hom ‘n dowe en hy is verplig om ook maar die vorms in te vul. Wat maar moeilik gaan want hy bewe soos ‘n riet in ‘n ligte briesie.

Man, nie lank nie of hierdie blonde meisiekind kom roep die ou man en ek sien dat hy vir ‘n oomblik vergeet het hy gaan bloei. Maar haar “Kom, Oom, hier is ‘n oop bed vir jou,” laat sy oë glasig word. Gelukkig was hy naby genoeg aan die bed en het nie omgeval nie. En daar lê OMR, soos ‘n lam ter slagting en wag vir die naald om sy arme aar binne te dring en hom te verlos van al sy bloed. Of so reken hy. Toe daardie blonde sustertjie naderkom met die naald kon jy nie sien waar is OMR en waar is die laken nie. Sadis wat ek is geniet ek elke oomblik van die petalje.

Ag, nie lank nie en in is die naald en daar lê OMR en fluister die gedig van O Bloedrivier, O donker stroom terwyl hy in ‘n rekord tyd daai sakkie vol bloei. Uit is die naald en ewig dankbaar probeer die ou man van die bed af klouter. Net om in ‘n patetiese hopie langs die bed in mekaar te sak waar twee sterk jong manne hom weer terug help op die bed. “Nee Oompie,” verduidelik sy persoonlike nursie, “Oompie moet eers stil lê. Hier eet die koekie en drink Oompie se vrugtesap,” verduidelik sy mooi.

Naderhand kon ek hom afhelp van die bed af. “Toe, Anna, dis nou jou beurt!” beduie hy na die bedjie. “Wat bedoel jy nou, ou man? Ek is nie moeg nie. Ek wil nie lê nie,” hou ek my dom. “Nee, jy moet nou ook bloedskenk,” verduidelik hy. Waar die blonde nursie my velle red… “Nee Oompie, die Tannie kan nie skenk nie. Sy het heeltemal te veel mediese probleme. Ons kan nie haar bloed gebruik nie. Maar die Tannie was al hier gewees om te skenk en sy weet sy kan nie.”

If looks could kill was ek ‘n hopie as op die vloer. Ewe vroom help ek toe maar vir OMR kar toe. Vir eens was hy stom geslaan, so sonder woorde. Nou ja, reken ek, eerder OMR wat gemartel word as ek wat Anna is. Hierdie storm sal ook oorwaai. Ons het iets geskenk vir Krismis. Miskien praat hy dan teen Krismis met my…

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *