Entertainment Katrienkie

Die dood van ‘n kind – Uit Katrienkie se bundel – Want die Kiewiet maak weer nes

Vandag trek ek my skoene uit, Here. Want hier waar ek wil loop, is heilige grond.

Haar kind is amper ‘n jaar terug dood, sê sy. Sommer so skielik, onverwags. Die jaar het soos ‘n ewige ewigheid gevoel, sê sy. En sy wonder hoe sy deur die volgende jaar, en die volgende jaar gaan kom.

Ek weet nie wat om haar te antwoord nie, Here. Want hoe stap jy verby ‘n kamer wat altyd geleef en gelag het, en skielik is die gordyne toe en die son se stem het stil geword. Hoe stap jy verby ‘n kleuter se karretjie met die wete dat daardie karretjie nooit weer in vuil handjies vasgehou gaan word en gaan ry nie. Hoe bêre jy jou kind se skooltas, met die wete dat jy nooit weer gaan hoor van die juffrou nie, nooit weer ‘n omsendbrief gaan lees nie. Hoe dek jy die tafel vir een persoon minder . . .?

Hoe pak jy kleertjies weg waarin daar gelag en gespeel is. Hoe, Here?

Hoe bêre jy net ‘n stukkie van jouself en staan op en gaan aan met lewe?

Wanneer jou kind weg is, Here, dink ek jy vries hom of haar in jou hart vas. So bang dat hulle gaan wegraak. So bang dat jy klein dingetjies gaan vergeet en dat stukkies onthou gaan wegraak. En naderhand, Here, vries ‘n mens se hart sommer ook vas, soos ‘n vrieskas wat nooit skoongemaak word nie.

Ys-lagie op ys-lagie. En die koue kruip tot binne-in jou menswees in. Jy staan elke oggend op, maak kos, trek aan, gaan werk toe, bly regop . . . ter wille van hulle wat saam met jou agtergebly het. Maar jou hart se koue kruip tot diep in jou oë en dit maak ‘n winter wat nooit wil verbygaan nie.

U het ook ‘n kind aan die dood afgestaan, Here. U ken van ‘n gevriesde hart. Dankie dat U by elke gevriesde hart gaan stilstaan, sag daaraan raak en U warmte daardeur laat spoel. U skrik nie vir die trane wat skielik begin loop nie. U raak nie kwaad as ons verwyt of baklei of vrae vra nie. U sit geduldig by gevriesde harte, selfs al vat dit ‘n ewigheid om dit weer te laat werk. U vat elke brief wat ‘n gevriesde hart vir haar kind skryf, met deernis en lê dit sag in die kind se hande – U lees dit voor, sodat die gevriesde hart kan vrede kry. U weet dat kamer uitpak, en skooltas bêre, deel is van die proses.

En wanneer die gevriesde hart gereed is daarvoor, is U die Een wat die trane afvee en stilversigtig help om die klere weg te pak.

Dis belangrik dat ‘n gevriesde hart weer moet hitte kry, Here. Dis belangrik dat gevriesde harte se ys moet smelt en by stukkende oë uithuil. Dis belangrik dat gevriesde harte moet baklei en skree en snik. Want eers as gevriesde harte begin smelt, kan daardie kindjie wat toe-gevries is, in ‘n mamma en pappa se hart begin lewe. Dis dan wanneer herinneringe lewendig word. Wanneer ons met ‘n stil, hartseer glimlag, kan begin onthou en verlang. En wanneer ‘n gevriesde hart begin smelt, stap U nie weg na die volgende hart toe nie. Nee. U bly by U kinders vir altyd, ook om hulle deur die onthou en verlang dae te dra, om hulle toe te vou wanneer dit Kersfees en verjaarsdag-tyd raak. Om by hulle te bly, totdat U hulle kind weer veilig in hulle arms terugsit. Altyd.

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *