Alternatiewe Anna News

Alternatiewe Anna

Soms dink ek my kleinkinders is onnodiglik aspris. Kyk nou maar net na hulle begrip van oud. “Ouma is seker baie oud want Ouma het baie kreukels in Ouma se gesig,” of “Ouma moet baie oud wees om so stadig te loop.” Ek is al ‘n paar keer heel onvleiende woorde toegevoeg deur hulle, maar mens skryf nie sulke goed neer nie. Veral nie as los en hang en groot en baaaaaie wit daarmee saamgaan nie.

Maar dit is nie net die klein stout gatte nie. O nee, deesdae begin Old Man River ook met sy “my ou vrou” klem op die oud. Ek is nou al baie jare gewoond aan die tannie of antie soos ek genoem word. Daarmee het ek geen pyne nie. Maar hierdie OMR wat skielik harder praat met my want ek word doof volgens hom en die feit dat hy goed onder my neus hou sodat ek kan sien is nie meer so lekker nie. Die liefdevolle “my ou grysie” sal ek laat verby gaan want dit is goed bedoel.

My kinders doen ook deesdae die “my ou moeder word nou baie oud” ding. Man, en dit krap my om want ek besef dit is die waarheid en niks behalwe die waarheid nie. Ja, ek weet. Oud word is nie vir sissies nie. Daardie wanhopige poging om vas te klou aan vervloë jeug begin nou rêrig ‘oud’ raak…

Maar so once in a while verbeel ek my ek is nog jonk en jeukerig en dan word die kleur pot nader getrek, die vingernaels word gedoen, die toonnaels word laat doen want dit is ver tot daar onder, make-up en perfume en opdress: die hele boksemdais net om een gekreukelde ouman te laat verstaan ek is nog hier. Sodat hy my nie inruil vir twee jongetjies nie. Hy sal tog nie weet wat om met hulle te maak nie!

So het ek ook so ’n paar dae terug besluit dit is weer tyd vir ’n romantiese aand vir ons twee oues van dae. Moeite is gedoen, Let wel baie moeite en met die vertrek slag laat OMR ewe laf van hom hoor: “Anna, vanaand vat ek jou nie net uit nie. Ons kom huis toe ook.” Daardie stoute vonkel wat hy soms in sy oë kry voorspel net een ding… Hier kom ‘n ding!

Met die uiteet saam is dit flirt die kant toe en daai kant toe; kompleet soos twee jongelinge wat mekaar probeer impress. Hy proe my kos en ek syne, ewe gesellig. Maar ek moet sê, ons het die streep getrek by die arms verstrengel om wyn of iets te drink. Daarvoor is ons heeltemal te oud en besorgd oor ons voggies.

Nou ja, klaar geëet stap ons hand om die lyf terug na skedonkie toe, reguit op pad huis toe. Ewe galant word die deur vir my oopgemaak en ek ingehelp in die kar in. Gewoonlik as ek ingehelp word, is dit omdat ek of siek of geswaai is. Ander tye is dit “toe-toe, Anna, roer jou stêre.” En daar sit ons, vreeslik verlief in skedonkie en verbeel ons dat ons weer 25-something is…

Net daar besluit skedonkie om nie te start nie. Sy kreun en steun as OMR die sleutel draai, hoes twee keer en bly soos ’n steeks donkie staan. Sy vat nie, sy brom nie, sy hoes en proes en bly gevrek staan. Grootoog staar ons na mekaar. OMR is in sy stepping-out kleertjies en hy weet ek wat Anna is, gaan hom gas gee as hy in die enjin krap met sy one-and-only’s aan. “Wat nou, Anna?” vra hy mistroostig.

“Bel iemand,” stel ek voor. “Iemand soos Only Son wat ons kan kom huis toe sleep.” Wat OMR toe ewe gedwee doen. Die romanse trek by skedonkie se oop vensters uit, op soek na ander slagoffers. Ag, nie te lank nie stop Only Son by ons. “En wat het julle twee oues van dae so opgetof hier kom doen? Moenie vir my sê …” Net daar begin hy soos ’n hiëna op steroids te lag en die klein bliksem hou nie op nie. “Julle is te oud vir sulke manewales!” laat hy luidkeels van hom hoor en naderhand huil die hiëna soos hy lag.

“Ja, toe!” betigtig OMR hom. “Maak vas vir skedonkie en sleep ons huis toe.” Wat hy toe doen want as pa eers “ja, toe!” gesê het luister hulle.

Moeg en onromanties het ons by die huis aangekom, ek met my skoene in my hand want die pofaaitjies het my begin knyp. So sonder seremonie is ons bed toe, so sonder ’n nightcap of stoute gedagtes. “Ja, wat, Anna. So saam met die grysheid kom die wysheid en die besef dat slaap soms baie nodig is. Ons sal maar ander dag weer probeer,” sug OMR en snork soos saam met die laaste woorde. Ag ja, reken ek, Rome is nie in een dag gebou nie. Ons try maar ander dag weer…

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *