Alternatiewe Anna

Alternatiewe Anna

Kyk, ek wat Anna is, is nou net mooi emmervol vir hierdie Cough-it, Cough-it. Dit is besig om van ons lelike mense te maak. “Hoekom?” vra jy. Nou kom ek verduidelik.

Die Afrikaner nasie is mos beroemd gewees vir hulle gasvryheid. Daardie advertensie wat vra: “Nog enetjie? Met ys, ja?” spreek boekdele. Waar is die dae toe ons mense ingenooi het vir koffie – voor vyf- en vir ‘n dop na vyf in die middag? Of as mense onverwags by jou aankom op etenstyd, jy hulle nooi om saam te eet want daar is definitief genoeg vir almal? Daardie dae toe ons vir ‘n army gekook het net vir “in case”?

Die tyd dat almal almal gesoen groet en gedruk het, al het julle mekaar net gister gesien? Waar is die family gatherings met die dop en chop en dans en lag dat die spoeg spat? Man, dis nou so erg jy kan nie eens jou vriendin wat snot-en-trane huil oor haar blêddie man hug en sê: “Toemaar, hy’s ‘n poephol nie.” Nee, jy moet jou sosiale afstand hou en heaven forbid dat haar snot en trane op jou beland. Net-nou is sy n cough-it geval en dan steek jy dalk aan en beland in die hospitaal waar geen ventilators beskikbaar is nie. Lyk my mens moet nou orals jou eie vibrators, ventilators en defibrillators saam piekel. Jou eie bersie, matras en piekniek mandjie want as jy in Joburg bly, slaap jy in die hospitaal se gange.

Nee, hierdie pandemie van epidermiese proporsies het ons suinig en koud en afsydig gemaak. Mense wat by jou deur aankom staan buite, ver genoeg van jou af. Jy bied koffie aan en die word op ‘n afstand neer gesit. Dan disinfect die gas die beker en bid jy het nie oor die koffie genies nie. Hopelik maak die kookwater die cough-it kieme dood. As daar iemand aankom na vyf, steek jy die bietjie dop wat jy het ver weg en bied koeldrank aan.

Aaandete word streng afgemeet in porsies sodat elkeen net genoeg kry want wat as daar môre nie meer kos op die winkel se rakke is nie? Jy mag nie eens vir die arme boemelaar ‘n sandwich gee nie want die wette sê jy mag nie. Nou word daar vir ons vertel as jy lief is vir jou mense, moenie gaan kuier nie. Moenie hulle druk of soen nie, bly 2.5 meter af weg van jou kleinkinders af want netnou is almal siek.

Almal het in masked wonders of misdadigers verander met die alewige masker dra. Ja, ek weet dit is nodig. Ja, ek weet jy moet ver genoeg wegstaan en in disinfectant bad, stort of what-ever. Ek weet al die dinge maar ek hou nie daarvan nie. Hoekom moet ek en Old Man River maskers dra as ons saam in die kar ry? Genade tog, ons slaap saam in een bed en OMR se snorke dwarrel die heel nag oor my.

Ja, my masker is op as ons gestop word want nee, ek wil niemand anders as OMR soen nie. Nou weet jy wat die heel ergste is? Ek is allergies vir baie dinge, soos byvoorbeeld stof. Daarom hou ek nie van huis skoon maak nie. Ek nies en hoes en my neus loop en my oë swel op en ek klink soos ‘n pofadder wat wil attack. En wat maak mense as hulle jou sien? Hulle dink jy is ‘n cough-it geval en loop draaie om jou. Elke sniffel is verdag, elke loop neus is ‘n hospitaal geval en daai hoesie is nog ‘n spyker in die cough-it coffin. Mens word dadelik gesien as ‘n wandelende tydbom wat enige oomblik kan nies.

Al hierdie dinge maak van ons lelike mense. Dit is genoeg om mens te laat skreeu, nie waar nie? Maar ek wat Anna is sal nie. O nee! Ek gaan nou vir OMR oopbek soen want hy verstaan my hart. Sy soen is soos lafenis oor my troebel gemoed. Hy gee my krag vir nog ‘n dag; cough-it of te nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *