Community News

Nuus vanuit die VLU Kos spens

Michele du Plessis

Ten spyte van al die beperkinge wat deur munisipale wetgewing opgelê word ten opsigte van die uitdeel van etes en kospakkies aan diegene wat dit so nodig het, het die VLU Arende tak van Sabie hulle aangepas by die nuwe regulasies. Hulle verskaf etes en kospakkies aan 139 persone in Sabie.

Die COVID-19 pandemie wat die wêreld getref het en tot die nasionale inperking in Suid Afrika gelei het, het ‘n finansiële krisis in baie huishoudings veroorsaak. Daar is gereeld berigte oor “die mense is honger” en die daaropvolgende polisie optredes. Duisende kinders wat op skoolmaaltye staat gemaak het, lei honger. Mense in plakkerskampe het ‘n wesenlike tekort aan kos en huishoudings wat op die inkomste van beide ouers staat gemaak het, is in die “geen inkomste bootjie wat nou baie vinnig sink” gedurende die inperking.

Elize Potgieter, Voorsitster van die Arende tak in Sabie, hou deeglik boek van elke skenking, kospakkie en ete verskaf. “Ons vra ‘n minimale bedrag – 10c- per ete en ons teken elke maaltyd wat uitgestuur word aan,” het Elize gesê.

Dit is duidelik dat regulasies hulle nie sal onderkry nie. “Weet jy egter wat is die heel wonderlikste?” het Elize gevra tydens ons gesprek. “Ek was so moedeloos want ek het nie geweet waar ons die volgende week se bestandele vandaan sou kry nie. Maar wat! Ek het op my knieë gegaan ek hard gebid en gevra vir hulp. En waarlik, ons is geseënd. Ons het skenkings ontvang, sommer so uit die bloute uit. ‘n Dame het ook vir ons 400 kosbakkies geskenk waarvoor ons baie dankbaar is.

Die mense van Sabie het hulle harte en hande oopgemaak en ons kon selfs kospakkies opmaak om aan ons gesinne te gee. Baie, baie dankie vir elke skenking, donasie en elke persoon wat ons help om kos voor te berei. Daar is van die restaurante wat een keer ‘n week vir ons etes voorsien vir al ons mense en ek kan nie genoeg dankie sê nie,” het Elize gesê.

Die hardwerkende VLU vroue het ook gehekelde knie-kombersies uitgedeel om die koue so bietjie hok te slaan. Baie dankie, dames, vir elke kombersie wat julle uitgedeel het!

Die VLU het ‘n kos trollie by Spar gehad waar mense donasies kan los, maar ‘n organisasie word net vir twee maande toegelaat om so ‘n kostrollie te hê. “Enige donasie, groente, nie-bederfbare produk is baie welkom en ons waardeer dit opreg,” het Elize gesê.

Vir diegene wat die VLU wil ondersteun, kontak asseblief vir Elize op 061 190 4319 of WhatsApp 079 573 6038.

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *