Editions News Social

Afrikaners is plesierig

Michele du Plessis

Ons word uitgehaal op sosiale media; ons post memes en snaakse sêgoed oor die coronavirus. Ons word as onsensitief uitgekryt want ons spot met alles. Ons is sonder simpatie en empatie… die lys gaan aan. Maar weet jy, dit is nie waar nie. Van ons mense het ook die virus, mense wat ons ken en lief voor is in oorsese lande, party kritiek. Het jy al daardie song gehoor van “smile even though your heart is breaking”? Wel, daar het jy dit. ‘n Uitstekende voorbeeld van die tipiese Afrikaner.

Ja, ons dryf die spot met baie dinge – polonie, pilchards, brandewyn; met gevreesde siektes soos die coronavirus, HIV, Ebola, babelas en nog baie meer. Ons spot op troues, begrafnisse, familie byeenkomste, grand d’affaires soos die President se National Disaster toespraak toe hy so bietjie laat was. Ons is meestal bo die belt, maar onder die belt is ons net so snaaks. Tensy jy jou ‘n snob hou en nie die gepeupel se sin vir humor wil verstaan nie. Ek wed jou jy lag jou gat af daar waar niemand kan sien jy lag nie. Hierdie is deel van wie ons is, die tipiese deursnee Afrikaner.

Verstaan jy die Afrikaner se unieke sin vir humor?

Sandra Swart skryf in haar tesis “The terrible laughter of the Afrikaner” dat na die Anglo-Boere Oorlog die mense niks gehad het nie; alles was verwoes en 25 000 Afrikaners dood in die konsentrasie kampe. “Yet in this apocalyptic post-war world, something strange was happening. Afrikaners were laughing.”

Ons is regte Boeremense, ons doen alles met oorgawe. Gasvryheid, huil, baklei, spot en lag. Dit is deel van ons kultuur, dis in ons bloed, dit s wie ons is. Ons humorsin is uniek: Tolla, Spies en Plissie, Dowwe Dolla, Leon Schuster, Al Debbo… die lys is lank en gepeper met “name”.

Ons benader ‘n ernstige situasie met ‘n grappie of kommentaar wat lighartig of onsimpatiek klink. Hierdie vlymskerp, vinnige humorsin is egter ons manier om trauma te verwerk, om te oorleef en maar net aan te gaan. Daar word mos nie verniet gesê dat “Laughter the best medicine” is nie.

So, Afrikaners is plesierig, en jy kan dit maar glo.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *