Alternatiewe Anna News

Alternatiewe Anna

Baie jare terug, toe ek en Old Man River nog fris, vars, jonk en jeukerig was en die kinders nog net ʼn twinkle in his eyes was, het hy ʼn ernstige poging aangewend om my te leer vis vang. En, ek moet dit ter verskoning aanbied, ek het hard probeer…

So op ʼn dag het hy aangekondig ons gaan die naweek vis vang. Ek en hy en ons tentjie-vir-twee. Soos wat hy nog maar altyd gedoen het, gee hy my ʼn lysie van wat ek moet inpak vir die groot uittog na die gevreesde vis waters. Diep in my hart het ek gehoop dit is iewers beskaafd met ablusie geriewe en ten minste ʼn koelte boom of twee. Ek ingepak, uitgepak, reg gepak en van voor af begin. Naderhand was ek moeg gesweet en het alles maar net op ʼn hopelose hoop gepak.

Lunch tyd kom hy by die huis aan en vra of ek reg is om te ry. “Waarnatoe?” wil ek weet en die kyk wat hy my gee het boekdele gespreek. Vinnig het ek klaar gemaak en twee ure later kon ons ry. Daai jare kon hy nog sy brom onderdruk; vandag gee hy heel gemoedelik uiting aan die frustrasies wat ek veroorsaak. Maar dit daar gelaat.

By die ‘vis waters’ het ons ʼn kampeerplek reg langs die dam gesoek en ek het so by myself gehoop dit reën nie bevange nie want dan gaan ons hoog water beleef. Net so voor diep donker is alles mooi reg en OMR is besig met visstokke en katrolle en al daardie ingewikkelde dinge. Daardie jare was daar nie slimfone nie, en ek het maar by die kampvuur se lig probeer lees. Naderhand het die honger begin knaag en OMR het ʼn vleisie op die kole gegooi. Tog te lekker saam met ʼn wyntjie.

En dit is net daar waar dinge begin skeef loop het. Wyn plus aandete = toilet. “Waar is die toilet?” wou ek weet. “Gebruik sommer die graaf daar agter die bos,” beduie hy en ek het sekerlik spierwit geword van skok. “Ag, kom ek sal saam met jou loop,” bied hy ewe galant aan en help my selfs die sooie omspit om my skenking te kan bedek. Man, terug by die veiligheid van die kampvuur besef ek dat dit nie veiligheid is nie. “Hier’s goggas!” gil ek vervaard en spring rond soos ʼn Riemvasmaker wat die stof dans doen.

“Anna, bedaar!” beveel hy my en ek vlug die tent in. “Pasop vir spinnekoppe en skerpioene in jou slaapsak,” roep OMR agterna en ek hardloop weer gillende uit die tent uit. Ewe geduldig het hy my slaapsak uitgeskud en ons is bed toe.

Net na 5 die volgende oggend maak hy my wakker met koffie. “Toe, Anna, jy gaan nou leer vis vang,” beveel hy en ek oorweeg ʼn graaf moord. Maar ek staan op en ewe gedienstig doen ek soos hy beduie. Korrekte vashou van die stok, so werk die katrol, hier moet jy laat los en so voorts. Met die eerste probeerslag koek die vislyn, met die tweede probeerslag val die vis mielies af. “Dis okay, Anna,” troos OMR. Met probeerslag nommer drie gebeur alles soos dit moet, maar toe die hoek en aas in die dam plons laat los ek die stok soos ʼn warm patat.

Drie vingernaels gebreek! (Nou hier moet ek bysê dat ek destyds so fake soos ʼn Barbie pop was en jy sou my nie sonder lang naels of make-up gesien het nie.) “Dit is dit!” laat ek van my hoor. “Vat die stok en die mielie wurms en doen dit self!” baklei ek en gaan val ewe dramaties op my stoel neer. Wat ʼn wyse besluit was dit net nie…

Sien, soos die dag gevorder het en die son geklim het, het OMR, toe nog ʼn spiertier met ʼn six pack, van sy trui en toe hemp verloor. Hy was sommer baie sag op die oog gewees en ek kon lustig kyk so van agter die sonbrille uit… Nege maande later was hy die pa van Eldest Son. Iemand wat hy uiteindelik kon leer vis vang. En ek? Ek hou van in die skaduwees sit en kyk…

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *