Community News

Marloth Park verwelkom Sabie Seniors

News Desk

Die senior burgers van Sabie Aftree Oord het met ʼn wye draai deur die Kruger Wildtuin na Marloth Park vertrek vir ʼn wegbreek kans van drie dae. Hierdie bederf is deur die Helpende Hand Sabie tak, onder die bekwame leiding van Marie Botha, georganiseer.

Marie vertel van die ondervinding. “Om 6 uur op die 10de September word ons ingewag deur die klompie Senior Burgers by Sabie Aftree Oord. En ek wonder wie was die meeste opgewonde van die 23 wat gereed was om die uitstappie mee te maak – die senior burgers of Helpende Hand Sabie tak?

Maande lank het ons pannekoek gebak en tweedehandse verkope gehou om fondse in te samel om die uitstappie na Marloth Park vir drie dae moontlik en spesiaal te maak vir ons senior burgers. Die konvooi voertuie – Busveld Link se bussie en nog twee ander voertuie, het sonder moeite by Phabeni hek ingegaan en van daar na Skukuza. By Skukuza het die kakebene beweeg, ontbyt is geëet, koffie gedrink en gesels sonder ophou.

By Krokodil brug het ons weereens geëet en daarna was dit reguit Marloth Park toe. By die Kruger Wild Dog Inn was ons verras oor die akkommodasie. ʼn Luuksheid wat alle verwagtinge oortref het!

Ons eet, kuier en speel saam soos een groot familie. Ons hou ook piekniek langs die rivier met “slap-tjips”, koeksisters en koeldrank.

Baie dankie aan Dina wat die Bushveld Link bussie se drywer was, versigtig en veilig het sy almal gemaklik laat voel. Billy Richardson was agter die Landrover se stuur en Marlene was ons derde voertuig se bestuur. Dankie aan julle drie!

Aan die volgende donateurs ook ʼn groot dankie! Ons waardeer julle.Denzil Lawrie, Greenview Spar, Thomsons, Supa Quick asook elke komitee lid van Helpende Hand Sabie Tak. Julle is tops.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *