Community News

http://gpsnews.co.za/2019/10/08/marloth-park-verwelkom-sabie-seniors/

Michele du Plessis

Kalvyn Olivier, waaroor in die vorige uitgawe berig is, is nie ʼn man wat net kan terug sit en niks doen nie.  Hy was die stigter van The Miracle Foundation  en die liefdadigheidsorganisasie is in die proses om ontbind te word. Die Wonder Stigting, ook gestig deur Kalvyn en sy vrou Annette, is gereed om die goeie werk voort te sit.

“Die huidige tendens in die eiendomsmark is tans sodanig dat die oorgrootte meerderheid van pensioenarisse hoegenaamd nie ʼn eenheid in ʼn aftree-oord/ veiligheidskompleks kan koop nie, veral as daar versorging ook ter sprake is.  Die prys van ʼn relatief “klein” eenheid in een van hierdie oorde is gewoonlik buite bereik van die pensioenaris, ten spyte van die opbrengs van ʼn “groot” privaat eiendom wat verkoop word  en daar kan ook nie “ietsie” oorgehou word om te belê as aanvullende inkomste nie,” het Kalvyn verduidelik.

Volgens Kalvyn het bejaardes ander behoeftes waaraan voldoen moet word. “Oumense/ouer mense het ʼn behoefte aan en smag na rustigheid, na veiligheid en het ook ʼn behoefte en verlange om vergange dae se drome te onthou en te koester – hulle wil nog graag drentel en draai, sonder agenda, sonder verantwoordelikheid, sonder doelwit en sonder afspraak, net stadig stap met die eensnaar-paadjie. Ja, hulle wil nog iewers talm om die dikwels seer van verwerping en/of verwaarlosing deur naasbestaandes/kinders of die verlies aan ʼn geliefde te verwerk.”

Bekostigbare aftree-oorde het ʼn noodsaaklikheid geword, sê Kalvyn. “Ons, die ouer garde wat nou in daardie situasie verkeer, ons pleit vir filantropie en samewerking van u kant sodat u saam met ons sal bou (letterlik en figuurlik) aan iets wat nou ʼn onontbeerlike noodsaaklikheid geword het – kom ons maak sáám hierdie droom, ʼn werklikheid.

In die lig hiervan sou ons graag met vermoënde persone en/of instansies wat filantropies van aard gesind is en bereid is om finansieelen andersinsbetrokke te raak, die moontlikheid wou bespreek om só ʼn oord te ontwikkel – ʼn oord wat bekostigbaar is, op ʼn nie-winsgewende basis bedryf word en wat aan die bewoners/afgetredenes “behoort”.”

Indien u sou belangstel om betrokke te raak of insette te lewer, tree asseblief in verbinding metKalvyn Olivier van die “Wonder Stigting”, óf per e-pos by kalvyn@lantic.net of skakel hom by 082 444 8534.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *