Community Entertainment News Uncategorized

Innibos 2019

Be(t)roudag verskuif teater grense

Troues en al die familie intriges was die tema van ʼn nuwe produksie konsep deur Adriaan van As en Francois Jacobs.  Maar hierdie was teater met ʼn verskil.

Die “teater” het afgespeel by “Christie’s at 32 on Russell”. Dit is ʼn sprokiesboek mooi venue vir ʼn familie troue in die Laeveld.

Dit is kreatiewe teater op sy beste en ʼn eerste in Suid-Afrika.  Die gaste van die troue (die gehoor) word gasvry ontvang, en kort voor lank voel dit kompleet asof die gaste ʼn regte troue bywoon.  Gaste word ook ingedeel in die bruid of bruidegom se vriende.

Briljante regisseur, Andre Odendaal, het die choreografie behartig. Die groepe gaste word verdeel in vier, waar elke groep ʼn ander deel van die storielyn volg. Argumente, gekonkel en komedie was deel van elke verhaallyn. Elke groep van die gehoor, het ʼn ander verhaallyn gevolg.

Geen klankapparaat is gebruik nie, om so ook by te dra aan die “werklikheid” van die gebeure. Sporadies vergeet die “gaste”, hulle is egter die gehoor van ʼn toneelstuk, en begin hulle ook op/aanmerkings maak.  Komiese tonele en satire was meesterlik vertolk deur die akteurs

Die uitdagings om vier verskillende groepe van die gehoor te laat beweeg na verskillende gedeeltes op die perseel binne ʼn beperkte tyd was meesterlik bestuur deur die kelners van die troue.  Van die kapel tot in ʼn slaapkamer, maar almal kom weer bymekaar vir die slottoneel.

Die uitmuntende span akteurs was Nicola Hanekom, Chris van Niekerk, Pulane Sekepe, Wilhelm van der Walt, Amalea Uys, Adriaan van As en Francois Jacobs.

Haal Asem

“Mamma, haal asem” is woorde wat soveel betekenis kry na die dood van haar kind, Kieren. Ira Blanckenberg se seun is in 2013 op ouderdom 14 tragies ontkom.

Soos enige ouer wat deur die dood van ʼn kind geraak word, is dit ʼn rouproses wat nie ophou nie.

ʼn Mens wat nooit weer dieselfde sal wees nie.

Mens leef in die nou, amper vreesloos.  As die paniek golwe tref, fokus mens net op die volgende asemteug. Mens beweeg na binne en sterf ʼn duisend keer.

Ira het die teaterstuk geskep rondom haar trauma ervaring en in ʼn eenvrouproduksie vertolk.  Die vertolking was so deel van haar seer.

Sy het die gehoor op ʼn reis van oomblikke vanaf vyf jaar na die kind se dood, terugwerkend in tyd, tot met die aanhoor van die nuus, geneem.

Die alleenheid in die rouproses, die fases van rou en die skakels van onthoumomente, gee die gehoor insig in wat Ira moet deurgaan.

Die emosionele wipplank wat nie in teksboeke verduidelik kan word nie, is aangebied in ʼn smaakvolle (rouvolle) storielyn.

ʼn Storielyn wat mens lank na die teaterstuk nog laat kou aan die produksie.

Die regie was behartig deur Mari Borstlap.

Sy het meesterlik ʼn verhoogervaring weergegee waardeur baie mense kon assosieer.

ʼn Staande ovasie was getuie daarvan.

Frans se sielvolle stemklanke

Innibos vorm ook ons plaaslike talent. Frans Voges (30) is ʼn jongman van Barberton, met ʼn besonderse talent om klank effekte te kan namaak.

“Mens het ʼn goeie oor nodig en baie stemoefeninge”, volgens Frans.

Twee bekende feesorganiseerders, het sy talent raakgesien en na al die klanke geluister in sy vermoens.

Philna Scholts en Annemarie van der Walt, het ʼn kort storie geskryf, waarby Frans die klank grepe voorsien het.

Bekende plaaslike kunstenaar Steyn Fourie, het die storie voorgelees, en Frans het sy hart uit gespeel op die verhoog.

Frans sê dat die handeklap van die gehoor vir hom die heel lekkerste was.

Die klanke het gewissel van ʼn kettingsaag, ʼn handrat kar tot ʼn motorfiets wat wegtrek.

Die gehoor was verbaas oor die detail van die klanke.

Kunste uitstallings bederf met Internasionale standaarde

Laerskool Nelspruit se nuwe kultuursentrum was die gasheer van Innibos se hoofkunsuitstalling. Drie verskillende uitstallings was hier gehuisves.

“Kuns verander jou visie, en die manier waarop jy na die lewe kyk,” volgens Johan Myburg (kunskurator).

In die woorde van Johan: “Kuns is handvlyt; kuns is skilder; kuns is tuinbou; kuns is hier om ons  anders te laat voel oor die mens langs my.”

Inniblom

Inniblom was ʼn uitstalling van sewe verskillende landskapskilders se werke wat keurig deur kunskurator Johan Myburg uitgestal is.

Blomme het deur die jare altyd betekenis in ons lewe.  Of dit ʼn rooi roos is op Valentynsdag, of ʼn wit aronskelk by ʼn verjaarsdag, blomme komplimenteer ons lewe.

Een kunstenaar, Hester Schoeman het deur vars blomme te gebruik, die skilderye gekomplimenteer.

Vars blomme se skoonheid bly nie vir altyd, sê Johan. Gevestigde kunstenaars het die taal van blomme op veelsydige maniere oorgedra.

InniBloed

Tekeninge en etse deur Johan Stegmann, ʼn meganiese ingenieur. Volgens Johann is “geskiedenis nie solied of vasgedefinieerd soos wat ons dit wil maak nie”.

Johan se werke is op baie klein skaal (5x5cm) .  Daar was vergrootglase beskikbaar by die uitstalling, om mooi na die detail te kon kyk.

Die idee van die “klein skaal” tekeninge volgens Johan, is dat mens moet nader gaan en met ander oë daarna moet kyk.

ʼn Fassinerende kunstenaar van Johannesburg, wat sonder ʼn vergrootglas, baie detail vasgelê het. Die voortrekker dogtertjie met ʼn selfoon in haar hand, het baie gesprekke uitgelok tydens die uitstalling.

Pronkstuk Proteas

Leon Kluge is ʼn plaaslike bekende en landskap argitek van beroep.  Hy het onlangs ʼn goue toekenning gekry by die Chelsea blommeskou in London.

ʼn Gedeelte van die wen uitstalling was tydens Innibos 2019, by die Laeveld Nasionale Botaniese Tuin ten toon gestel.  Wat ʼn voorreg vir ons hier in die Laeveld, om dit te kon beleef.

Die blommeprag het 17 verskillende soorte proteas ingesluit.

Dankie, Innibos

Vanjaar was Mbombela behoorlik #VuurEnVlam van kreatiewe kunstenaars, produksies, musiek, blomme, kuns, digkuns, stories en boeke. Handwerk kompetisies en feeskos; vlooimark en films;  Woorde in die tuin en eggo’s in die grotte; Opera en ysskaats; Kinderteater en detensie;

Rekord getalle toeskouers is deur die hekke en die gemeenskap het ʼn welkome ekonomiese inspuiting van miljoene rande gekry.

kykNet is vanjaar 20 jaar op die lug, en hulle het hul verjaardagvieringe afgeskop by Innibos.  Jakaranda FM het ook hul stempel van “more music you love”  afgedruk op die fees.
Die Innibos-direksie en –bestuur werk onverpoosd lang ure om ʼn suksesvolle fees vir elk te verseker.

Met al hul innoverende denke, sorg hulle vir ʼn jaarlikse onthou geleentheid. Met so bekwame span projekbestuurders, word daar weke voor die fees, na elke detail omgesien.
Die Fiësta toekenning vir die “beste opelugmusiekproduksie 2018” is nie verniet aan die gedugte span toegeken nie. ʼn Wenspan soos hierdie is net ʼn produk van die Laeveld.  Ons is trots op julle.  Dankie vir jul toewyding en toekomsvisie.

Dankie dat jul ook julle talente gebruik om die lewe vir ons ʼn beter plek te maak.

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *