Alternatiewe Anna News

Alternatiewe Anna

Old Man River het oor die algemeen ʼn hart van goud. Dit is nou as jy nie krap daar waar dit nie jeuk nie. Selfs ek wat Anna is, weet so soort van waar my perke lê. Een van daardie kyke van hom is genoeg om my baie vinnig terug te bring aarde toe, maar ek het al gesien hoe mense hulle lelik misgis en sodoende die befoeterde kant van OMR in ʼn oogwink na vore te bring.

Jare terug is ek en OMR uitgenooi na hierdie grand gedoente toe. Kleredrag formeel en al daardie dinge. Die eerste ding waarmee OMR ʼn probleem gehad het was die formeel. “Dit beteken ek moet myself verwurg met ʼn das of ʼn ding wat soos ʼn luislang al hoe harder gaan druk soos wat die aand aanstap. Ek sê nou vir jou, Anna, dat ons gaan en ons kom terug; so vinnig as wat ons nie ongeskik lyk nie,” brom OMR.

Soos wat die gedoente se datum al hoe nader kom, so raak OMR al hoe meer beangs. “Moet ons nou rêrig na die ding toe gaan?” probeer hy hom vir oulaas uit die ding uitdraai. “Die “ding” is ʼn modeparade vir fondsinsameling. Ek het klaar ge-RSVP en ons gaan. Jy’t so bietjie kultuur in jou lewe ook nodig,” hap ek erg venynig na sy kant toe. Die dag van die modeparade breek aan en OMR trek ewe stug die formele kleertjies aan. Maar hy wriemel so in die hemp en das dat ek bevrees is hy gaan gekreukel daar aankom.

By die deur van die hotel waar die “ding” gehou word, is ʼn lys op van wie waar sit. Ag, nie lank nie en ons sit ons sit by die ronde tafel, amper by die cat-walk.  Aan OMR se anderkant sit so ʼn laventelhaantjie opgepof in ʼn uitrusting wat skreeu: “Sien my raak!” Die laventel walms maak ons nies en OMR probeer so ongemerk wegskuif. Ewenwel, die knapie sien hoe OMR probeer wegskuif en vra ewe stroperig: “Wat is fout, Darling?”

Nou kyk, as OMR ʼn hond was, het al die hare op sy rug regop gestaan. Soos wat die aand vorder begin sy wimpertjies vir OMR te wapper, so saam met die pruil-bekkie en die gefladder van sy hande. “Dah-ling, hou jy ook van jazz?” vra hy. “Nee. Boeremusiek,” laat OMR nors van hom hoor. So gaan dit die hele aand…

Die volgende oomblik ontplof OMR en hy spring op, gryp die knapie aan sy een arm en skud hom soos ʼn Martini. “Hou jou hande van my af,” spoeg OMR die woorde een vir een uit. “En nog ʼn ding: ek pes jazz, ek luister na goeie Afrikaanse musiek. Ek drink koffie in die oggend, nie ʼn verdomde smoothie nie. Ek het nog nooit ʼn facial gehad nie en ek sal ook nie een kry nie. En nou luister jy vir my, kêreltjie: ek gaan jou so hard klap laat jou make-up afvlieg! Het jy my?”

Teen hierdie tyd staan ek wat Anna is en cheer. En nie net ek nie. Daar staan baie ou manne en klap hande vir OMR, veral toe hy die das van sy nek afpluk en sy moue begin oprol. Orals sien jy hoe dasse afgehaal word, baadjies uitgetrek word en ou manne wat met vasberade tree kroeg toe stap, OMR een van hulle.

Nou wat van die laventelhaantjie, vra jy. Na OMR se “het jy my?” is al wat hy kon uitkry: “Ja, oom. Skies, oom, ek is rêrig sorry.” Wys jou net hoe vinnig aangeplakte maniertjies vergeet word wanneer jy gevaar in die oë staar…

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *