Community News Social

Ou manne… maak plek vir die jonges

Jongmense se bereik in die wêreld is soveel groter as vroeër jare. Hulle het eintlik die wêreld op die punte van hulle vingers, met die elektroniese rewolusie saam. Die vraag is wat maak hulle daarmee?

Facebook, Twitter, Instagram en soortgelyke media was veronderstel om ons almal nader aan mekaar te bring. In plaas daarvan is dit besig om ons samelewing te verdeel en ons denke te hervorm.  Kinders se gesondheid ly daaronder omdat hulle nie meer fisies aktief is soos vroeër nie.

Daar is egter twee jong manne in Sabie wat fiks en gesond is deur gholf te speel, en die ou manne soms op hul neuse laat kyk.

Aden Rouvoet (8) en Marcu van der Merwe (12) is gereelde spelers by Sabie Country Klub.  Op Vrydag, 8 Junie, het hulle aan die gebruiklike SPAR Sabie se “Double Up” kompetisie deelgeneem, en met pryse weggeloop.  Aden het die derde plek behaal in die kompetisie en sodoende die ouer manne op hul neuse laat kyk, en heerlike groot pakke wors gewen.  Marcu het die langste dryf op bof no. 7 behaal, en ʼn geskenkbewys van Sabie Country Klub se Pro Shop ontvang.

Albei kinders se ouers is betrokke by die klub en het die liefde vir die sport van kleins af aangeleer.

Kinders van so jonk as 5 of 6 jaar kan begin gholf speel, en dit hoef nie noodwendig ʼn duur uitgawe te wees nie.  Sabie County Klub het ʼn projek om gholf onder jongmense te bevorder en nooi graag mense uit om met hul te kom gesels daaroor.  Indien jy graag jou kind betrokke wil kry in die wêreld van gholf, kontak gerus vir MC op 076 991 2192 of op (013) 764  2282.

Sabie Country Klub is familie georiënteerd met ʼn veilige speelplek vir die kleintjies, sigbaar van die dek af.  Hulle het gereelde kompetisies en hul Pizza-aande op Vrydae  is legendaries.   Die etes is bekostigbaar en smaaklik.  Hulle is geleë in Hoofstraat, en is oop elke dag van die week.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *