Alternatiewe Anna News

Ons gaan kamp in Mosambiek.

Jare terug, toe Mosambiek nog woes en leeg was daar langs die kus, het ʼn veel jonger ek en Old Man River daar gaan kamp met al ons olyfboompies. Man, ons moes ʼn tentedorp stig: kombuis tent, badkamer tent, kinders se tent, ons tent en natuurlik ʼn gazebo langs die vuur waar almal kan sit en gesellig wees.

Daai tyd was die Mosambiek rum goedkoper as Coke en ander gaskoeldrank en daai rum het mooi afgegly na mens se innerlike binneste toe. Ons het redelik vroeg daar aangekom en voor donker het al die tente gestaan, die kombuis uitgepak en beddens opgemaak. Sien, ons het baie ondervinding gehad met kamp opslaan; baie oefen by die verskillende damme voor ons die see kon bekostig het.

Met die finale sak van die son is al die liggies opgekoppel, die braaivleis vuur brand mooi en ek en OMR sit elkeen met ʼn lang rum. Met die braaivleis reuke wat die hele wêreld rond hang en die see in die agtergrond, was ons wêreld net reg.

Die kinders het vroeg gaan inkruip en ek en OMR het nog so ʼn bietjie om die vuur gesit en kuier, die left-over braaivleis eenkant naby die kombuis tent. Die volgende oomblik spring OMR egter op, gryp sy knipmes en storm die donkerte in met sy klein flitsie in die een hand geklem. Met sy skielike wegstorm voel ek toe nou skielik baie benoud want dit is net een klein vuurtjie en ʼn nag se donkerte om my en wie weet watter wilde woestaards daar is wat mens kan vang.

Daar doer in die verte hoor ek ʼn geskreeu en ʼn geraas en takke wat breek. Daarna stilte, doodse stilte. Ek wat Anna is storm na die kombuistent, gryp die naaste groot mes en probeer doodstil staan. Net toe ek bevrees in die tent wou gaan klim, kom ʼn baie befoeterde OMR daaraan. Hy is sopnat, vol sand en sy flitsie het die gees gegee. “Nou wat het nou net gebeur?” vra ek hom en hy stap vasberade op die rum bottel af.

“Nee, verdomp, ek weet nie so mooi nie. Die een oomblik het ek hierdie gedierte by die vleisbak gesien en volgende het ek gesien hoe sneak die ding weg en laat vat. Met ʼn stuk wors in sy bek. En ek gaan nie dat iets my brekfis wors steel nie. So, ek het die ding gejaag deur die bosse, af teen die strand, deur die water plek-plek, maar die gedierte was net te vinnig,” het OMR verduidelik. “En die geskreeu?” wil ek weet. “Nee, dit was van frustrasie omdat ek nie die ding kon vang nie,” beduie OMR. Nou ja, na sy wonde gedokter is het ons maar gaan inkruip.

Vroeg die volgende oggend gaan soek hy styf en seer na die voetspore van die ding en naderhand roep hy my om te kom kyk. “Anna, soos wat lyk dit vir jou?” vra hy. “Hoe moet ek weet?” sê ek. Met die wat ons nog so om die spore rond draai, kom so ʼn ou man verby gestap, op pad see toe met sy net. Hy het ook die spore van naderby beskou en net sy kop geskud. Met gebare en verskeie Engelse woorde kon ons later verstaan wat hy bedoel. “Big cat,” en hy hou sy hand redelik hoog van die grond af met die beduie saam. “Big trouble,” waarsku hy en daar gaan hy.

Nou ja toe, dink ek. “OMR, ek is baie trots op jou,” laat ek van my hoor. “Jy is sekerlik die eerste man wat ʼn leeu of ʼn ding met ʼn knipmes sal aanvat in die donkerte.” “Ag ja,” sê ʼn bleek OMR, “rum verdryf alle vrees en helder denke. Maar nog steeds. Dit was my brekfis worsie gewees…”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *