Alternatiewe Anna

Alternatiewe Anna

Ek is hoogs ontsteld. So ontsteld dat ek dit sterk oorweeg om nie weer met my kinders te praat nie. Hulle het my diep seergemaak met die dat ek nie meer vir my kleinkinders mag stories vertel nie. Hulle sê ek verwar die kinders en dat hulle soms so nagmerries het oor die gruwelike stories wat ek hulle vertel dat hulle ʼn sielkundige knou weg het. Bid jou aan! Van soveel snert het ek nog nooit gehoor nie. Maar laat ek nou maar vertel wat gebeur het.

Sien, die ding het nou so begin. Die kleinkinders het kom kuier, ongelukkig saam met hulle ma en pa vir wie ek nou kwaad is. Daardie middag toe begin die jongste met, “vertel ons ʼn storie, Ouma.” En wie is ek nou om te weier? Ek het vir so ʼn rukkie gesit en besluit ek sal maar eers met ʼn Bybel storie begin voordat ek nou die ouers se sensitiewe uitkyk op die lewe te na kom. Omdat mens iewers moet begin het ek besluit om die skeppingsverhaal heel eerste te vertel.

Daar vertel ek hulle toe van Adam en Eva en die vytjie en die appel wat eintlik ʼn tamatie moes gewees het. Kleindogter stem saam; dit kon net ʼn tamatie gewees het. Oordat ek probeer sensitief wees het, verander ek toe nou maar die slang na ʼn groente verkoper toe wat in die boom sit en “appels en eiwe” skreeu.

Eva het gereken die goedkoop tamaties is ʼn bargain en toe die groenteverkoper haar nog vertel dat die skille van haar oë sal laat afval, toe koop sy sommer nog ʼn pakkie. Daardie middag toe maak sy nou maar vir hulle slaai met komkommer ook in en van die olyfboompies wat om die tafel staan se olyfies ook in en bokmelkkaas. Tog te lekker, reken ek. Kleinseun wil weet of dit ʼn Greek Salad was en ek reken toe dat dit meer ʼn Paradise island slaaitjie was. Waarvan Adam en Eva tog te lekker geëet het.

Net daar toe val die skille van hulle oë af en sien hulle het die keiser se kleertjies aan. Met ander woorde, niks klere nie. En Adam hou van wat hy sien en Eva gooi ook maar ʼn oog na Adam se kant toe. Daar’s die koeël deur die kerk en die engel knyp net sy oë toe. Nou omdat dit nie ʼn nudiste beach was nie is die twee uit die paradys gegooi en die hekwag het hulle met sy laser swaard gedreig en gesê voertsek.

Die twee kinders het aan my lippe gehang en ek mag dalk hier en daar die storie so bietjie vererger het. Soos die groente verkoper wat in die see gegooi is deur die kwaai engel. Waarop kleindogter gereken het dat dit waterbesoedeling was en dat Greenpeace die engel ʼn stywe boete sou gegee het. Waarop ek saam gestem het…

Nou, alles sou okay gewees het as die twee nie met hulle onderskeie onderwysers sou gestry het oor Adam en Eva nie. Toe hulle haar weereens meedeel dat hulle Ouma sê dit is so en sy is reg, het die een juffroutjie haar grensloos vererg en so op my arme Kleindogter geskreeu het dat sy daardie nag nagmerries gehad het.

En nou skielik is dit alles my skuld! Ek het nie gesê die juffrou moet gil en skreeu nie. Maar dit daar gelaat. Ek word nou sommer verantwoordelik gehou vir my kinders se probleme en wanopvattings oor stories. Ek het nie gesê hulle moet alles glo wat ek vertel nie…

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *