Alternatiewe Anna News

Alternatiewe Anna

Met die grommend, brommende rally karre wat die dorp so op horings geneem het, het dit my laat terug dink na vele jare gelede en hierdie einste rally hier deur Sabie se bosse.

Sien, Old Man River het dit mos in sy kop gekry om ook te gaan rally kyk. Hy wou net sien hoe al hierdie karre een vir een op die kronkelende stofpaaie ry. Nou ja, ons is weg by die huis met ʼn cooler box vol verversings, so vir innerlike versterking as die opgewondenheid oor die brullende karre te veel word.

Ewenwel, so jaag ons van stage tot stage sodat OMR die karre kan kyk. Ons is naderhand net so vol stof soos die rally karre, maar die innerlike is verkwik en hoekom sal ek nou kla as OMR dit so baie geniet? Man, maar hier by stage 595 tref die nood vir OMR en ek kry opdrag: soek ʼn toiletplek en kyk vir toiletpapier onder die sitplek. Wat ek toe nou doen en na ʼn gevoelte hou ek triomfantlik die rolletjie witgoud omhoog.

OMR gaan in overdrive in en onse galoppie lê sommer so skuins deur die draaie soos hy voet neersit om ʼn beskutte en private plekkie in die bosse te kry. Ek klou vas aan die dashboard en aan die handvatsel hier by my kop en probeer ter selfde tyd die cooler box voor my voete beskerm.  Naderhand kry hy hierdie yslike rotse tussen die bome en stop in ʼn wolk stof en die kar het nog nie eers behoorlik gestop toe hy knyp en hol…

Net sy oë was sigbaar bo die rotse soos wat hy rondkyk om die bietjie rots privaatheid te beskerm. Maar, o genade, so gelyk-gelyk hoor ons die gebrul van ʼn rally kar en ek kyk vervaard in die boekie waar die bleddie karre nou moet ry. Met die bewuswording van waar ons nou eintlik is, gil ek vir OMR: “Knyp en vee! Die karre jaag op die stuk plantasie pad! Dis hoekom daar vlaggies en goeters was!”

Dit is toe nou ook presies wat hy doen: knyp, vee en hol. Mense, hy het nog nie eens behoorlik gesit nie toe onse ou karretjie brullend wegtrek met ʼn jubelende stofwolk agter ons. Met die omkykslag sien ek daardie brullende kar vol stickers agter ons, so omtrek 50 meter. Maar dit kon nader gewees het want my skatting was maar nog altyd bietjie bedroef. “Hou vas, Anna!” skreeu OMR en met ʼn verbete trek om sy mond slinger hy ons deur die eerste draai. Op ʼn stadium raak ons airborne en ek lig sommer die cooler box met my voete sodat ons verversings nie beskadig word nie.

Plek-plek lyk die rally kar groter en dan sit OMR voet neer en dan word die kar weer kleiner. So jaag die bleddie ouman deur die hele stage en ons stop so 10 sekondes voor die kar agter ons. Uit pure verligting dat die inhoud van die cooler box nog heel is, begin OMR soos ʼn histeriese hiëna te lag en ek lag net so lekker saam.

Ons lag so dat ons nie eers die geklop aan OMR se venster hoor nie. Toe OMR weer kyk toe staan hierdie man in sy resieskleertjies langs hom. “Meneer, vir watter span jaag jy? Jy weet wragtig hoe om ʼn kar te hanteer,” prys die ou hom. Vir ʼn oomblik is OMR se woorde weg, maar toe vind hy dit weer. “Nee wat, ek ry maar net vir die anna-span,” antwoord OMR ewe droog. Waarop hy weer soos ʼn histeriese hiëna begin lag. Kyk, adrenalien is ʼn ander ding, né…

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *