Community News

Ons lesers se resepte

Michele du Plessis

Baie van ons is in die bevoorregte posisie gewees om Ouma se boerekos te kan geniet. Sommiges van ons het Ouma se resepte boek geërf, daardie een wat in haar eie handskrif geskryf is. Kompleet met notas, moets en moenies. Daardie resepte wat in onse en ponde en eetlepels en teelepels afgemeet word.

Wie ken nie die geur van kaneel oor pannekoek, melksnysels, bobotie, pampoenkoekies, boontjies met uie en aartappel, melktert, asynpoeding… die lys is lank en lekker. GPS News wil graag in elke uitgawe een (of dalk twee) van ons lesers se resepte plaas. Miskien een van daardie spesiale, geheime resepte?

Dit hoef nie net tradisionele boerekos te wees nie, daardie resep wat jy al so vervolmaak het dat dit jou spesialiteit geword het. Deel dit met ons deur dit na sub@gpsnews.co.za te stuur, met jou naam en telefoon nommer. As jy ʼn foto het van jou gereg sal dit baie waardeer word. Hopelik het ons binnekort genoeg resepte om ʼn resepteboek die lig te laat sien…

In hierdie uitgawe deel ons ʼn tradisionele soetkoekie resep met ons lesers.

Outydse Soetkoekies

Bestanddele:

½ Koppie (125ml) botter

1½ Koppie (375ml)varkvet (enige vet sal werk)

4 Koppies (1 liter) suiker

12 Koppies (3 liter) meelblom

2 Koppies (500ml) melk

1 Koppie (250ml) goue stroop

4 Eiers

3/4 Pakkie koeksoda

1 teelepel (5ml)fyn kaneel

1 Eetlepel (15ml)gemengde speserye

1 teelepel (5ml) neutmuskaat

1 teelepel (5ml) naeltjies

2ml sout

 

Metode:

– Voorverhit oond op 180 .

– Meng die botter deeglik.

– Voeg die suiker by en klop tot donsig.

– Sif die droë bestanddele, behalwe die koeksoda, saam.

– Klop die eiers goed saam met die melk.

– Voeg droë bestanddele om die beurt met vloeistof by botter mengsel.

– Roer stroop in.

– Los die koeksoda in klein bietjie warm melk op.

– Voeg by die deeg en meng deeglik.

– Rol dun uit en druk af met vormpies.

– Bak in voorverhitte oond

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *