Books & Authors News

Naledi en GPS News Boekresensie: Wen die boek!

News Desk

Donker Bloeisels, ʼn debuutroman, geskryf deur Jacques le Roux, beeld die skoonheid en genesende krag van liefde en vergifnis uit. Ook die reis waarop ons elkeen soms moet gaan om persoonlike probleme te konfronteer.

Die atmosfeer was swaar tydens ʼn boekbekendstelling in Durbanville die afgelope Donderdagaand by die pragtige Lindy van Niekerk Kunsgalery. Jacques le Roux, ʼn sielkundige en nou debuutskrywer, het foto’s gewys van die destydse oorlogshopsitaal op Deelfontein in die Karoo tydens die Anglo-Boereoorlog waar ʼn groot deel van sy boek afspeel. Ook hartroerende foto’s van grafte wat nou nog daar is. Die gehoor was meegevoer en jy kon ʼn speld hoor val.

In Donker Bloeisels gebeur dit dat Ben se ma sterf toe sy hom as jong seun uit ʼn vuur red. Dit lei tot verdere spanning in sy reeds moeilike verhouding met sy pa. Ben se broer, die windmakerige Andries, word sy pa se gunsteling. Andries pleeg later op ’n bisarre wyse selfmoord tydens ’n veldslag in die Anglo- Boereoorlog. In ’n poging om sy broer te red word Ben gewond, en deur die Britte gevange geneem.

Ben ontmoet die pragtige verpleegsuster, Kate, in die hospitaal op Deelfontein. Hy raak verlief op haar, maar Kate het egter ’n donker geheim: morfienverslawing. Na vele probleme en omswerwinge, vind Ben onder valse voorwendsels verblyf in Montagu waar hy vir Kate wag. Hier ontmoet hy vir Helen, wie se man ’n Kaapse rebel was en wat ook na St. Helena verban was. Hy begin ’n vriendskap met Helen en gou is daar verwikkelinge.

Intussen probeer Ben en sy pa elk op sy eie manier ook om hul verhouding te red en leer baie lewenslesse in die proses. Hierdie verhaal spreek temas van swaarkry en verlies aan, maar ook van hoop en die krag van liefde.

“Almal wil graag aanvaar word deur familie, vriende en die gemeenskap. Wanneer jy voel dat jy nie inpas nie, is dit soms maklik om bitter en eensaam te voel. So weerhou ons onsself ook baiekeer van goeie en liefdevolle verhoudings met die mense om ons,” sê Le Roux.

Le Roux, wat spesialiseer in traumaberading en verliesterapie, het na ’n tydperk wat hy as sielkundige offisier in die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag gewerk het, in 1996 voltyds as privaatpraktisyn te praktiseer. Hy vertel dat hy nog altyd gefassineer was deur die geskiedenis van die Anglo Boereoorlog en self na Deelfontein gereis het as deel van sy navorsing. In sy boek skryf hy ook kleurvol oor die soldate wat verban was na St. Helena-eiland tydens die oorlog en hul daaglikse lewe daar. Uiteindelik is Donker bloeisel nie ʼn oorlogstorie nie, maar ʼn storie oor verhoudings. Onder andere die soms moeilike verhouding tussen pa en seun, tussen broers en ook tussen Boer en Brit. Die goue draad wat regdeur die verhaal loop, is eenvoudig: slegs deur aanvaarding, vergifnis en begrip vir mense om jou kan jy vrede maak met jouself.

Donker bloeisel word uitgegee deur Naledi, kos R200 en is beskikbaar by www.naledi.online

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *