News

Hansie en Hoppie

Michele du Plessis

Lank gelede, toe daar nog skole op plase was en die kinders nog kaalvoet kon skool toe gaan, het Hansie by so skooltjie begin skool gaan.

Hansie het sommer skool toe geloop want die skool was op hulle plaas gewees. In die middae het Hansie op die plaas gehelp en in die oggend skool gegaan. In hierdie skooltjie was so vyftig kinders gewees, sommiges ouer as die ander. Party kinders het met donkiekarre na die skool toe gery, party met perdekarre en ander sommer op die perd of donkie se rug. Die perde en donkies het in ʼn kampie geloop en huis toe tyd is hulle weer ingespan of opgesaal.

Hansie het egter ʼn anderster troeteldier gehad. Hansie het ʼn kuiken van kleins af groot gemaak. Eers in ʼn kartonboksie in sy kamer en later het hierdie hoenderhaan op sy bed se voetenent geslaap en vroeg elke oggend gekraai. Dan het Hansie opgestaan, aangetrek en ontbyt in die kombuis gaan eet. Dan het Hoppie, die hoenderhaan, ʼn handvol mieliepitte gekry vir sy ontbyt.

Daarna het Hansie skool toe geloop om by Meester te gaan leer. Die tweede week van skool het aangebreek en heel opgewonde het Hansie by sy tafeltjie gaan sit en gewag dat Meester met die lesse begin. “Môre, kinders!” het Meester gesê. “Môre, Meester!” het die kinders almal gelyk gesê. Net daar toe kraai Hoppie saam met die kinders.

Verskrik het Meester omgekyk en daar het hierdie yslike hoenderhaan in die deur gestaan. “Wie se hoenderhaan is dit?” het Meester kwaai gevra. “Dit is Hoppie, Meester,” het Hansie verduidelik. “Dit is my hoender.” Meester het gesê Hansie moet dadelik die hoender huis toe vat en daar trek Hansie met Hoppie wat agterna hardloop. By die huis het Hansie vir Hoppie in sy kamer toegemaak en terug gedraf skool toe. Vir so ʼn ruk het dit goed gegaan, maar net voordat die skool uitkom, was Hoppie terug by die skool.

Dag vir dag moes Hansie vir Hoppie iewers gaan toemaak, maar Hoppie het elke keer uitgekom en skool toe geloop. Uiteindelik het Meester maar moed opgegee en die volgende oggend was daar ʼn ekstra stoeltjie in die klas. “Hansie, laat daardie hoenderhaan op die stoel sit. As hy wil skoolgaan, moet hy hom gedra,” het Meester gesê. Kiertsregop het Hoppie op die stoel gesit en alles mooi dopgehou.

In die middel van die jaar het Hoppie egter Meester verwonderd laat stilbly. Meester was besig met somme, soos 1+1=2 en 2+3=5. Elke keer as Meester ʼn som vra, dan pik Hoppie op die stoeltjie, presies die regte hoeveel keer wat die som se antwoord is. Naderhand het Meester die kinders stilgemaak en net vir Hoppie somme laat doen. Elke keer het Hoppie die regte antwoord gegee. “Kan jy nou meer!” het Meester gesê. “Ja, Meester, hy kan meer! Hy kan maal en deel en aftrek somme ook doen. Hy help my elke dag met my somme,” het ʼn baie trotse Hansie gesê.

Meester het nooit weer geraas oor Hoppie nie en vir baie jare lank het Hansie en Hoppie elke oggend getrou skool toe gegaan om hulle lesse te gaan leer.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *