Alternatiewe Anna

Alternatiewe Anna

Ek kry mos nou die dag hierdie blink idee in my kop, wat nie altyd ʼn goeie ding is nie. En ek vertel vir Old Man River van my wonderlike idee en hoop vir die beste. Met vele gehhmmm’s en gehaaaa’s en ek wat motiveer vir ʼn vale, begin hy van my idee te hou.

Sien, ek het gereken dit is tyd vir ʼn tweede honeymoon en ons moet terug gaan daar waar ons was. Ek wat Anna is, begin sommer dadelik te beplan. Net daar slaat ek my eerste hiccup. “Kan jy onthou in watter hotel ons gebly het?” vra ek OMR en ek sien hy kan ook nie meer onthou nie. “Wel, die plek het so skuins opgeloop boontoe en dit was by die see…” verduidelik hy. “Ja, maar watter see? Wat was die hotel se naam?” en hy skud net sy kop. Hierdie is een van daardie gevalle waar ek nie ʼn kind kan bel en vra nie. As ek wel sou, sou hulle begin somme maak het om datums van geboortes te bepaal. Wat ons ook nie wil hê nie…

Laat daardie nag toe onthou ek mos en storm na die rekenaar toe. Soek die strand, vind die strand, soek die hotel, vind die hotel en skryf nommers neer. Vroeg die volgende oggend bel ek om plek te bespreek. Ewe opgewonde vra ek of hulle nog die special op die honeymoon suite het en die dametjie vertel my van hulle specials. Vir twee mense per nag in die honeymoon suite met ontbyt daarby werk dit uit op R1400 per nag. Ek skrik so en laat die foon val. “So, die special vir R107 vir 7 dae werk nie meer nie?” vra ek hartseer. Ek het net ʼn sagte kliek in my oor gehoor en geweet sy het die foon neer gesit…

So gaan ek op my lysie af en bel en beplan. Maar met elke oproep sak my moed al laer in my skoene en toe OMR by die huis aankom, vertel ek hom van al die probleme met die nuwe honeymoon. “Okay, Anna, so die punt is dat ons dit nie kan bekostig nie. Probeer ʼn alternatief uitdink,” sê OMR bedaard en ek wil net huil. Die volgende dag probeer ek weer maar sonder die rooskleurige brille op. Ek betrag die koue werklikheid en maak maar my bespreking…

Twee weke later is dit nou sulke tyd en ek pak die kar met alles wat ons moontlik gaan nodig kry. En nog so ʼn bietjie ekstra. Moeg gesweet vlieg ek deur die shower en maak gereed vir ons vertrek. Al die kinders kom sê totsiens en Happy Honeymoon! Met die vertrekslag en honderd meter se ry met ʼn oorverdowende geraas, stop OMR dood en spring uit die kar uit. Vervaard probeer ek kyk wat aangaan maar ek sien niks nie. Vyf minute later is hy terug en hou ʼn bondel toutjies met blikke daaraan in sy hand. “Bleddie kinders,” brom hy glimlaggend en daar gaan ons.

Laat daardie middag kom ons by die plek aan en ek beduie OMR waarnatoe hy moet gaan. Eers draai hy die padkaart reg in my hand en kyk toe self daar waar ek die kolletjie gemaak het. Uiteindelik kry ons die plek en ek stap by ontvangs in om te betaal en te hoor waar ons plek is. Sy is so gaaf en sê sy sal iemand stuur om ons te wys. Met ʼn swaai van sy hand beduie die jongeling daarin en OMR doen so.

“Anna, maar hier is niks!” laat ʼn beduiwelde OMR van hom hoor. “Nee, daar is. Net bietjie ondertoe sit die huisie. Kom, laat ons afdra,” probeer ek paai. Die jongeling help fluks afdra en naderhand is ons klaar. “Maar Anna…” “Nee, draai om en kyk,” beveel ek hom. Wat hy toe ook doen. “Ai Anna, jy weet ook net hoe,” sê hy en hou my vas.

Sien, ek wat Anna is het die hotel se naam op ʼn plakkaat geskryf en bo die deur gehang. Dit was tog net ʼn naam gewees…

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *