Community News

Senior Mind Moves Instituut besoek Sabie Seniors

Maxine du Plessis

Op die 2de en 3de April het Senior Mind Moves Instituut ʼn inligting praatjie kom lewer by die Sabie Aftree Oord. MMI (Mind Moves Instituut) is ʼn Navorsing- en Opleidings Instituut, toegewy aan die stimulering en ontwikkeling van breinkrag van alreeds voor geboorte tot in met die senior jare. Mind Moves, geskryf en ontwikkel deur dr Melodie de Jager, is fisiese bewegingsaktiwiteite wat sonder enige apparaat gedoen word om die brein te ontwikkel, fiks en soepel te hou. Om die brein jeugdig te hou is die bewegings aangepas vir seniors en word dit Senior Mind Moves genoem. Die bewegings word suksesvol aangewend om ʼn brein wat tekens van veroudering toon, of seergekry het weens beroerte, ʼn ongeluk of trauma- ʼn hupstoot te gee.

Volgens statistieke is die ouergenerasie ʼn immer groeiende groep en is daar alreeds meer mense ouer as 65 as jong mense onder 15. Die aantal 100 jariges vermeerder ook jaarliks. Alhoewel mense neig om langer te leef, is dit hartseer dat vroeë veroudering intree en meer en meer mense word reeds in hulle veertiger en vyftiger jare met sogenaamde “oumens-siektes” gediagnoseer, siektes soos: Parkinson, Alzheimers en Diabetes tipe 2.

By die Mind Moves Instituut word daar geglo dat dit minder aftakelend en veel meer lewegewend is om eerder na maniere te kyk om langer jeugdig, aktief en produktief te bly. So ʼn proaktiewe ingesteldheid hou die stramheid uit die lyf, die emosies lig, die immuunstelsel lewendig en die denke vaardig. Beweging word as medisyne gebruik om sodoende die verouderingsproses te vertraag en om kwaliteit lewe  tydens die ouer jare te verseker.

Gedurende die sessies het Trudie van der Linde oor verskeie probleme gepraat wat mens kan ervaar op jou oudag en ook hoe om dit te hanteer. Daar was opgewondenheid in die lug wat duidelik hoorbaar was deur die gelag en saam gesels van die inwoners.  Oefeninge is gedemonstreer aan die inwoners van die Aftree Oord wat hul sal help om verskeie funksies van die liggaam in stand te hou soos bv. visuele oefeninge om sig en geheue te verbeter en ook oefeninge om gehoor en balans te verbeter. Inwoners was ook aangemoedig om aandag te gee aan gesonde eetgewoontes en om seker te maak dat die regte hoeveelheid water elke dag gedrink word.

Mnr. Olivier het meegedeel dat hy die sessies leersaam  gevind het met al die inligting wat gedeel was en dat hy dit baie geniet het. Me Elsie Strydom het gedeel dat sy die ‘hak-toon, hak-toon’ oefening baie behulpsaam vind en dat dit haar beslis gaan help. Die inwoners van die Sabie Aftree Oord wil graag Trudie van Senior Mind Moves Instituut bedank vir die genotvolle sessies.

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *