Alternatiewe Anna News

Alternatiewe Anna

Kyk, ek wil nou op geen tone trap nie, maar hierdie Noag se Ark storie klink vir my baie na ʼn wolhaarstorie. Ongelukkig toe ek dit vir Old Man River noem, is hy tot in sy Sondagskool skoene geskok. “Anna, hoe durf waag jy dit sê?” betig hy my. Wat ek as ʼn geldige vraag sien en hom antwoord: “Die Grondwet maak voorsiening vir vryheid van spraak en ek oefen my reg uit deur die hele Noag storie in twyfel te trek.” O genade, en daar bars alle hel los.

Ek klink naderhand soos ʼn matroos wat aan Tourette se sindroom lei en OMR spoeg letterlik die woorde uit. Goed omgeklits stamp hy sy voete deur die huis na sy garage toe. “Man cave,” soos hy verkies om dit te noem. Ek laat ook nie op my wag nie en loop stampend na die Wife Cave toe waar ek die Yskoue Yskas oopruk en die wyn beet kry. Wat miskien nie ʼn goeie ding was nie…

Naderhand het ek bedaar en OMR kom ook so effe sku die kombuis binne. Nou kyk, ek het amper van my stoel afgeval toe hy ewe ordentlik vir my vra hoekom ek beweer Noag en sy ark is ʼn wolhaarstorie. Verbaas storm ek na die venster toe om te sien of daar donderwolke opsteek en of ek moet gaan sandsakke pak voor die deure en vensters…

Ewe ordentlik verduidelik ek my denke aan OMR. “Die ark sou ʼn merske affêre moes gewees het. En sou mens die herbivore op ʼn dek bo die karnivore gesit het en die omnivore een laer? En waar sou die voëls en goggas gegaan het? Besef jy hoeveel ekstra goggas hy sou moes huisves om die spinnekoppe en slange te voer? En is daar net een teelpaar van ʼn soort ingepak? Wat het gebeur met byvoorbeeld die adders? Is net ʼn pofadder paar ingepak of is daar ʼn nagadder en hierdie adder en daardie een ingepak? Toe, verduidelik daardie vir my. En in elke geval, al was die warmbloediges en koudbloediges en die goggas en slange en what-have-you-not’s kinderspeletjies vir Noag se organiseringsvermoë, is daar ʼn ernstige probleem waaraan niemand ooit gedink het nie.”

“Wat, Anna? Wat kon moontlik ʼn probleem gewees het?” vra OMR moedeloos. Dit is duidelik dat hy slaggereed is om in preacher mode oor te gaan en om my te verduidelik dat niks onmoontlik is nie, so ek spring hom sommer voor. “Sien, dit was nie net Noag en sy vrou nie. Dit was hulle kinders met hulle mans of vrouens, sommer die hele boksemdais. Iewers daar tussen sou ʼn skoondogter of twee gewees het, nie waar nie? Nou verduidelik asseblief vir my hoeveel kombuise daar ingebou was en hoeveel kamers? Jy weet net so goed soos ek dat as jy ʼn klomp females in een, let wel: EEN wife cave loslaat, all hell will break loose. En as females se humeure rooi slaat, soek hulle ʼn kamer met ʼn deur wat hulle kan toeslaan met onnodige geweld. En, my million dollar question is: Het Noag genoeg van die vroulike psige verstaan om aan al hulle vereistes te voldoen?”

Stomgeslaan gluur OMR my aan en spoeg nie ʼn sprak nie. Nou ja, net om my geldige punt daardie nodige oemf te gee, sê ek wat Anna is, heel dramaties: “Nee, skatjie, hy het nie. As hy geweet het, sou daardie ark nie gebou gewees het nie.” So, daar het jy dit nou.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *