Entertainment Social

Saarkie stel nuwe enkelsnit bekend

News  Desk

Die immers gewilde rockgroep, Saarkie, het pas hulle nuwe enkelsnit, Suidwes-Afrika vrygestel. Hierdie treffer volg in die suksesvolle voetspore van hulle vorige vrystellings, Vir Altyd en Langpad, wat vir weke op trefferparades landswyd gepronk het.

“Ons avonture gee vir ons inspirasie vir ons liedjies –  ons het die Visrivier Canyon in Namibië gaan stap wat 90km in totaal is.  Meer as die helfte van die groep het verdwaal en vir 3 dae weggeraak sonder kos of water!  Hulle is uiteindelik gevind en dit was baie traumaties vir almal,” vertel Lila, die drommer van die groep.

Die lied is  geskryf deur Adèle Fouché, Lila Botha en voormalige lid, Erika Pretorius.

“Die lied sal altyd vir ons spesiaal bly omdat dit ‘n lewenservaring was wat ons altyd sal onthou.  Die Canyon is ongelooflik mooi en ons het die staptoer vreeslik geniet.  Toe ons vriende nie by die eindpunt aangekom het teen sonsonder nie, het ons geweet iets is verkeerd.  Baie mense het gehelp soek na hulle en ons was so bly toe almal veilig terug is. Die liedjie is spesiaal want dit was hoe ons gevoel het op daardie oomblik toe almal na hulle gesoek het,” voeg Lila by.

SAARKIE bestaan uit Adèle Fouché (kitaar- en mondfluitjiespeler, voorsanger en liedjieskrywer), Lila Botha (dromspeler en agtergrondstem) en Mjön van Blommestein (baskitaar-, ukelele- en mondfluitjiespeler, agtergrondstem, en mede-liedjieskrywer) en vier vanjaar hulle tiende bestaansjaar.  Hulle word beskou as een van die mees suksesvolle rockgroepe in die land.

Die Saarkies het bekendheid verwerf vir hulle energieke elektries-akoestiese styl en is oor die jare vir verskeie Ghoema- en SAMA-musiektoekennings benoem en het in 2018 weggestap met ʼn Ghoema vir Beste Rock-Album vir hulle album Queen van die Toorbos waarvan Suidwes-Afrika nou die derde enkelsnit is wat vrygestel word.

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *