Alternatiewe Anna

Alternatiewe Anna

Kyk, as daar nou een ding is wat met redeloos kwaad maak, is dit mense wat weier om die geld wat hulle jou skuld, te betaal. Al die verskonings wat hulle uitdink, soos die tjek is in die pos, ek maak dadelik ’n betaling of ek het nie geweet ek skuld jou geld nie. Vyfhonderd verskonings oor hoekom hulle nie betaal het nie of dat hulle kwansuis nie eens geld het om die maand mee te oorleef nie. En dan sien jy hulle sit in die restaurant met prawns en what not. Dan is my moermetertjie sommer diep, baie diep, in die rooi.

So ʼn jaar of vyf terug het Old Man River ʼn kas moes maak vir Mevrou die Weduwee. Toe dit kom by betaal, toe het sy skielik trane in die oë en verduidelik hartgebroke dat haar man twee maande terug oorlede is en sy kry so swaaaaaaaar. Ja, né. OMR kry haar toe jammer en se hy sal later die geld kom haal. Hy hanteer trane nie baie goed nie. Maar ek dink so by myself: “Myself, daai vrou lieg soos ʼn tandetrekker. Sy’t mos ʼn nuwe kar gekoop en koop klere dat die spoeg so spat. Daarom die ekstra kas…”

Ewenwel, die weke gaan verby en geen betaling nie. OMR begin ongeduldig raak en vra ek moet asseblief net die geld loop haal. Done. Sy try haar trane op my, maar dit werk nie. Ek gee haar die ultimatum dat ek more die geld kom haal, anders… en ek laat die anders so hang in die lug. Die Saterdag vroeg moet ek en OMR gaan inkopies doen en hy stop sommer by haar huis. Ek klop en klop maar daar is geen beweging nie. Anyway, ons ry toe nou maar na die naaste groot dorp om inkopies te gaan doen.

Man, ons was net klaar, moeg gesweet en dors, toe ons verby die grand restaurant stap. Wragtig, daar sit Mevrou die Weduwee aan ʼn lang cocktail en suig. “Gaan bêre jy die goed en dan kom kry jy my in die restaurant,” verduidelik ek vir OMR. “Anna, wat gaan jy nou weer doen?” vra hy bevrees, maar ek wuif hom weg en stap die restaurant binne. By die deur kry hierdie affêre’tjie my en ek verduidelik dat daardie ‘dame’ vir ons wag. My ou man sal nou hier wees.

Voordat Mevrou kon boo of baa, sit ek en die kelner kom dek nog twee plekke by haar tafel. Ek kyk na die wynlys en bestel ʼn baie duur bottel wyn. Toe OMR daar inkom, hou ek vir hom ʼn glas uit en hy se nie een woord nie. Met die bestel slag, bestel ek sommer vir ons al drie. Mevrou sit nog steeds daar, geskok en uiter nie ʼn woord nie. Vir haar bestel ek net ʼn slaaitjie, vir my en OMR elkeen ʼn seafood platter met alles wat ek kan bysit.

Met die wat die kos uiteindelik daar is, maak ek of ek op die foon praat. Met baie agge nees en ons is op pad, beduie ek vir die kelner om al ons kos in take-away houers te sit, die wyn se kurk terug te sit en nog twee van dieselfde bottels te bring. Tien minute later is hy daar met al die kos in houers en die drie bottels wyn in ʼn mandjie. “For Madame,” lispel die affêre en ek vra vir die rekening. Soos blits is hy weg en terug. Ek kyk die rekening so en sit vir hom ʼn R500 tip by. Ek dog hy soen my voete. “Nou vat asseblief die rekening vir Madame by wie ons gesit het, dit is haar beurt om te betaal vandag.”

By die kar lag OMR soos ʼn histeriese hiëna. “R3500 se rekening! Anna, jou ou doring. Mevrou die Weduwee sal in die vervolg haar skuld betaal.” Ja wel, wat kan ek se? Kas – R3500. Suur trek om Mevrou se bek – Priceless…

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *