Community News

Nuwe hok vir Natureza

Maxine du Plessis

Op die 8ste Maart het GPS News Natureza Cat Rescue besoek om die nuwe hok wat gebou is te gaan besigtig. Mens kan duidelik sien hoeveel moeite in die hok ingesit is: daar is pragtige portrette teen die mure, spesiaal geboude kat skuilings, klimrame, leertjies en talle speelgoed wat oral neergesit is vir die katte. Selfs die tuin is pragtig uit een gelê vir die katte. Die hok kan met gemak 40 katte huisves en is spesiaal gebou vir al die wilde katte. Elke kat wat hul huisves word ingeënt, gesteriliseer en ontwurm.

Om na meer as 200 katte om te sien op ʼn daaglikse basis is geen grap. Susan wy haar hele dag toe aan die katte, maar doen so met baie liefde in haar hart. As mens ʼn hok binnegaan, ruik en is dit skoon en al die katte is spelerig en liefdevol – geensins sku soos ʼn mens sou verwag van ʼn mishandelde kat of ʼn kat wat gewoond is daaraan om op straat te bly nie.

Susan en Paul Van Zyl bedryf al vir meer as sewe jaar Natureza Cat Rescue. Daar is vele hokke spesiaal vir al die katte gebou en toegerus met komberse, speelgoed, kos en water bakke. Die katte is almal mooi gesond en dol gelukkig. Susan is dalk ʼn klein vroutjie, maar sy het verseker ʼn groot hart. As daar gevra word waarom doen sy wat sy doen vir al die katte, is die antwoord baie eenvoudig, “Ek doen dit want dit is my passie.”

Die maandelikse kostes is groot om die program te onderhou en Natureza maak baie staat op die gemeenskap om hul te ondersteun. Susan gebruik elke dag 70 sakkies Pamper kat kos. Sy verduidelik die groot uitgawe wat dit is om katte se kos te ruil met ʼn nuwe kos soort. “Wanneer mens ʼn kat se kos ruil met ʼn nuwe kos soort, word hul siek en dan is daar mediese onkostes wat mens moet aangaan om dit reg te stel,” sȇ Susan. Susan het die trok vrag katsand per dag verander na saagsels en hout skaafsels om kostes te bespaar en verduidelik hoe die saagsels nie stink soos katsand nie. Susan en Paul koop drie keer ʼn week 15kg sakke IAMS Multi Cat kos.

Die veearts rekening draai baie maklik by die R50 000 ʼn maand vir siek katte en nuwe katte wat inkom. Hierdie katte moet gesteriliseer en ingeënt word. Sou enige iemand belangstel om ʼn bydrae te maak tot die veearts rekening, kan dit by die dierekliniek te Sabie (Dr Natalie) inbetaal word.

Donasies van ogiesdraad en planke (6 x 9) sal hoog op prys gestel word om bestaande hokke te kan herstel. Verder sal enige sagte speelgoed, kombersies vir die komende winter en kat kos hoog op prys gestel word.

Susan wil graag vir Annamarie Da Silva en Felicity Meyer bedank vir hul donasies om die hok te kon bou en die mense uit Simile wat kom help bou het.

Om aansoek te doen om ʼn kat aan te neem, kontak gerus vir Susan of Paul Van Zyl op 081 835 0713. Die gemeenskap is ook welkom om Natureza te besoek om die katte te troetel of met hulle te speel. Sou jy belangstel om vrywilligers werk by Natureza te doen om die katte te help versorg, sal dit net so baie waardeer word.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *