Alternatiewe Anna

Alternatiewe Anna

Een ding wat ek onomwonde kan sê, sonder om skaam te voel daaroor, is dat my ma ʼn snob was. Snob met ʼn hoofletter. Kyk, daardie vrou kon snob saam met die bestes…

Nou, ek het by die bestes geleer hoe om te snob, maar ek verkies om nie te snob nie. Dit is nou totdat my moermetertjie diep in die rooi in gedruk word deur iemand wat probeer snob speel teenoor my. Veral daardie op-en-af kyk wat by my plakkies begin en by my ongekamde hare eindig en dan weer terug ondertoe…

Ewenwel, ek kry toe nou die dag ʼn uitnodiging van grand familie vir een of ander iemand se troue. Dadelik trek my rebelsheid ʼn rooi streep toe ek sien die dress code is erg formeel. Nou dit beteken lang aandrok, spyker skoentjies, stywe hare en make-up. Maar Old Man River sê ons moet gaan so, ja…

Ewe dikbek trek ek toe nou maar die dag van die troue die nodige ondersteunende, wurgende, martelende onderste klere aan om in hierdie verdomde rok te pas, druk my liddoring voete in simpel skoentjies en plak en spray vir die A-span. Selfs OMR dink ek lyk baie mooi. Ek het hom die dood voor die oë gesweer as hy nie daar is om my te help beweeg nie.

Lank en vervelig was die preek, die gesittery in die kerk, die singery en die gooiery met roosblare. “Wanneer gaan ons dan nou kos en booze kry?” vra ek vir OMR. “Sjuut!” maak hy my stil en heel statig waggel ons die 5-ster hotel binne vir die reception. Darem met die intrapslag kry ons elkeen ʼn glasie wyn. Piepklein flippen glasies. Ek drink sommer so drie staande by die waiter leeg en gryp twee vir saamvat tafel toe.

Aansit ete met baie messe en vurke en lepels en what-not, toesprake en snobberige mense. Gelukkig het ek en die een waiter teen die tyd al ʼn verstandhouding. Hy maak seker my glas bly vol en ek maak seker ek tip hom goed.

Naderhand begin die gaste mingle en die bruid se snobberige moeder tik my op die skouer. “Is dit tog nie jy nie, Anna? Ek het nie besef jy weet van ordentlik aantrek of dat jy ooit sou geweet het hoe om met ʼn mes en vurk te eet nie.” OMR knyp my hard en lank want hy weet: HKGK. Ek bly stil en sit rustig, sonder om my aan haar te steur.

Toe die orkes gaan verversings geniet, is die mikrofoon erg verlate en ek dink: Nou is my kans! Soos ʼn wafferse model marsjeer ek oor die dansbaan, kry die mikrofoon beet en maak keel skoon. “Aandag, almal!” klink my stem deur die saal. Toe ek almal se aandag het sien ek OMR verdwyn.

Die moeder kom op my afgestorm en toe sy by my kom, sit ek ewe vriendelik my arm om haar en sy het nie ʼn keuse nie. Staan en grin, dis al wat sy kan doen. “Ag, o Doorsie, ek is so bly jy het ons genooi. En ek sien jy lyk goed, mooi aangetrek en ewe behendig met die messe en vurke. Haai weet jy, ek is trots op jou. My ma het altyd gesê jy kom van die verkeerde kant van die treinspoor en ons moet nie met julle praat nie want ons gaan slegte maniere aanleer. Maar vandag sien ek dat jy ʼn pragtige troue vir jou buite-egtelike Betsie gereël het. Dankie tog jy kon vir Stinkryk Stoffel oortuig dat die kind syne is, al was jy 5 maande pregnant. Sjoe, sy was darem vroeg gebore! Maar anyway, congrats né!” Dodelike stilte…

Neus in die lug, skouers terug getrek en met ferme tred verlaat ek die saal. OMR het toe reeds die kar voor die hotel getrek. Siestog, die arme man…

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *