Alternatiewe Anna

Alternatiewe Anna

Ek kon nog nooit rêrig die ding verstaan van hoekom sekere liggaamsfunksies so onaanvaarbaar vir die samelewing is nie. Dit gaan my verstand te bowe hoekom ek moet skaam oor my maag wat gor oor ek honger is, of die silent but violent knorretjie wat ek soms so onbeskaamd laat glip nie. Ook nie hoekom ek nie ʼn reuse wind mag opbring nadat ek die helfte van ʼn groot bier opgedrink het nie.

Maar dit is duidelik dat dit sosiaal onaanvaarbaar is en dat dit nie gedoen word in polite society nie. Mev die Snob laat nooit ʼn windjie nie, sy burp ook nie en haar maag gor nooit nie. Nou vra ek jou met trane in my baby blues: is sy dan nie menslik nie? Nou kyk, ek het al die kuns vervolmaak om daardie geluidlose windjie die lug en die lig te laat sien.

Die groot geheim is om so onskuldig soos ʼn pas gebore lam te lyk. Gelukkig het ek die vermoë om te bloos saam met my reputasie donkiejare terug verloor en nog nie een van die twee gemis nie. Jy weet mos mense het so die manier om jou persoonlike spasie so te minag as almal in ʼn ry staan? Wel, ek het raad daarvoor. Jy los ʼn geluidlose metaangas bommetjie terwyl jy doodstil staan in hierdie ellelange ry. Dan wag jy so 5 sekondes voordat jy vervaard omdraai en die persoon agter jou aangluur terwyl jy melodramaties met jou hand voor jou gesig waai.

Daai persoon doen dit weer met die persoon agter hom of haar en so speel almal tellefoontjie met ʼn windjie. Maar jy weet dat jy die skuldige is en jy moet jou gesig maar mooi reguit hou om nie onbedaard aan die lag te gaan nie. Maar weet jy, die arme mens agter jou kry so skaam hy/sy staan sommer ʼn meter agter toe, net om jou vuil kyke te vermy.

Hierdie taktiek werk wonderlik op sport stadiums, die poskantoor, die bank, die ATM… ag, enige plek waar daar ʼn konglomerasie van mense is.

Die ding met burpies is almal om jou skaam vir jou gedrag. Nou ek het die manier om as ek nie van mense hou, my swak maniere verder te probeer volmaak. Veral as die hoity-toity familie van Old Man River daarop aandring dat ons ʼn vleisie moet kom braai. Man, dit is nou stywe gedoentes. So, ek burp, ek swets en wangedra my oor die algemeen. Hulle het nou maar opgehou om my te nooi.

Maar dit daar gelaat. Dan is daar nog die vroulike normale liggaamsfunksies wat ʼn ontsaglike taboe is. Alles moet so onder die dekmantel van geheimhouding geskied. Dankie tog daar is nie ʼn spesiale shack onder in die tuin waar ek hoef te gaan sit vir veertig dae en veertig nagte nie want die sondvloed laat die huishoudelik ark oor troebel waters dobber nie.

Maar nou ja. Al wat ek eintlik wil se is dat dames, julle is ook mens. Poep, burp en laat jou maag gor van die hongerte. Jy mag maar askies sê oor die metaangas wat die osoonlaag vernietig, maar dit is dit. Ons almal doen dit, jy is nie uniek nie. Laat los maar, susters, almal moet net groot happe vat…

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *