Alternatiewe Anna

Alternatiewe Anna

Nou kyk, ek verstom my soms aan die fairy tales van ouds. Ek praat hier van die Grimmige broers en Hansie Andersen. Kyk nou maar na Aspoestertjie. Die Grimm boeties het ook ʼn weergawe van hierdie girl se storie vertel en daar is duisende verskillende weergawes van ou Aspatatjie se storie.

Sien, ek het nou so gereken; wat as ons vir Cinderella in vandag se tyd moet laat groot word? Die eerste ding wat sal moet verander is haar naam. Kan jy jou die gespot indink as die kind skooltoe moet gaan met daardie naam? Watter deel gaan gebruik word om die ellelange naam te verkort? Ja well, your guess is as good as mine…

Cinderella sal seker Cindi word; nie Cinder of Rella nie. Miskien Cindi-Ella, of net Ella. Anyway, sy’s al seker haar naam skryf met die gebruiklike hartjies op die kolletjie-i. Net so vir die wis en die onwis as sy nou uiteindelik ʼn prins raakloop iewers. Volgende sal ons moet kyk na haar job description. Huishoudelike slaaf sal nie deug nie, ook nie huisbediende nie. Sy sal ʼn huishoudelike higiëniese konsultant genoem word.

Al haar jobs sal dieselfde bly en sy sal nog steeds nie betaal word vir haar dienste nie want sy kry immers boarding and lodging, maar die titel sal goed lyk op haar cv. En as sy net bietjie jonger was, kon sy haar mislike stiefma laat aankla het vir child labour. Maar sy was nie jonk genoeg nie, want sy wou ook gaan party.  En dit bring my by ʼn volgende probleem.

Waar sou ou Aspatatjie gaan party het? By een of ander night club, of ʼn neon party? Dalk ʼn foam party? En daardie fairy godmother sou haar hande vol gehad het om die onversorgde, hardwerkende, afgesloofde girl na iets te laat lyk. Skurwe hande en voete, dowwe, gekoekte hare, geen make-up en so voorts. Dit sou ʼn hele week gevat het vir daai Hannon outjie om haar op te fix.

Ewenwel, gestel die fairy godmother het dit reggekry om die verslonsde ou dingetjie mooi te kry, wat sou sy aantrek? Haar R9.99 People Extremely Poor (Pep) rok sal nie deug nie en ʼn aandrok met baie valle ook nie. Miskien ʼn shiny minirokkie en 9 inch heels. Tot die fairy godmother besef dat daai harige bene nie gaan deug in die kort rokkie nie…

Anyway, gestel die fairy kry vir ou Aspatatjie aangetrek en opgetof, is daar nog die issue van transport. Die girl wil ʼn entrance maak, nie om die blok sluip in ʼn Uber taxi nie. So, dit sou ʼn limo moes wees. Dit wil sê die toaster, microwave, blender, skottelgoedwasser en wasmasjien sou soos die transformers aangemaak gelas het en daar gaan Aspatatjie in haar wasmasjien-convertable…

Gelukkig was geen muise benodig nie want ek hoor hulle het ook deesdae ʼn unie waaraan hulle behoort.

Dan, by die party aangekom, word sy nie net deur die sogenaamde prins raak gesien nie, maar ook deur Rooikappie se wolf. En voor Aspatatjie kan  ooo of aaa is sy ʼn sletsappie in die hand gedruk en daar gaan sy, reguit na die wolf se tafel toe. Nou sien, die uiteinde van die storie is dat Aspatatjie so getrek soos ʼn rek, sonder haar skoene, op die agterseat van die wasmasjien-convertable uitgepass het oppad huis toe.

Waar sy die volgende oggend gedrapeer oor die wasmasjien wakker word met ʼn gewelddadige babalaas, haar Jimmy Choo’s is missing in action en sy het maskara strepe oor haar gesig. Arme Aspatatjie. Maar toemaar, die prins het ʼn skoen fetish en haar Jimmy Choo’s is darem veilig… Ons hoop.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *