Giftige plante en jou troeteldiere

Genesing uit die natuur, Health

Michele du Plessis

Daar is meer as ʼn honderd huis en tuinplante wat giftig is vir troeteldiere. Dit is dadelik opmerklik as jou hond of kat ʼn giftige plant gevreet het, aangesien die gifstowwe die niere en kardiovaskulêre stelsel aantas of lei tot depressie en ongewone gedragspatrone. As dit gebeur het, is daar net een uitweg: veearts toe. Onthou om die oorblywende stuk plant saam te neem sodat die veearts kan sien waarvoor om die dier te behandel.

Sigbare simptome wat baiemaal deur bepaalde plante veroorsaak word, is naarheid, bewerasie, uitslag, ’n seer tong en lippe en ’n geswelde bek, swakheid, swaar asemhaling en diarree.

Asaleas, strelitzia, olifant-ore, spinnekop lelie en klimop is plante wat die bek laat opswel, ’n pynlike tong of seer lippe veroorsaak. Plante wat ’n uitslag meebring, is poinsettias en krismisrose. Broodboom (cycad) kan ernstige lewer skade aanrig of die dier doodmaak.

Die gevaarliker, potensieel dodelike lelies, is die ware lelies van die Lilium of Hemerocallis spesies. Voorbeelde van ʼn paar van hierdie gevaarlike lelies sluit in: die Tierlelie, Daglelie, Asiatiese lelie, Oosterse lelie, Japanse lelie, Rubrum, Stargazer-lelies, Westerse lelies en Boslelies. Hulle almal is ook baie giftig vir katte. Klein innames (2 – 3 kroonblare of blare) – selfs die stuifmeel of water uit die vaas – kan tot ernstige, akute nierversaking lei.

Dogbane, Vingerhoedjies (Foxglove), Melkbos, Kalanchoe, Lelie-van-die-vallei en Selonsroos/Oleander bevat hartglikosiede. Dit kan lewensgevaarlik vir jou kat of hond wees as hulle dit per ongeluk inkry. Tekens van vergiftiging kan in die spysverteringstelsel (kwyling, braking) en die kardiovaskulêre sisteem (baie stadige of vinnige hartklop, hartversaking) bespeur word.

Binnenshuise plante wat buite bereik van jou troeteldiere gehou moet word sluit in: Filodendron, Pothos, Varkore,  Vredeslelies, Calla Lelies, Stompriet, Arrowhead Vine, Mother-in-law’s Tongue, Sweetheart Vine, Devil’s Ivy en Umbrella Plant.

As jou troeteldier daaraan sou kou, kan dit erge mondpyn veroorsaak. Tekens dat jou hond of kat dit mag ingekry het, sluit in: kwyling, krap aan die mond, ʼn geswelde snoet of lip en soms braking.

 

Leave a Reply