Alternatiewe Anna

Alternatiewe Anna

Old Man River wag elke nuwe jaar baie angstig om my nuwe idees vir die jaar aan te hoor. Uit ondervinding weet hy (en ek, agterna) dat die planne nie altyd die beste is nie. Nou verstaan my mooi, dit is nie voornemens nie. Ek het dit al probeer en dit werk glad nie. Dit sal ook nooit werk nie, dink ek.

Maar anyhow, om terug te kom by die nuwe idees en planne vir die jaar. Elke jaar kry ek mos ʼn bevlieging om iets nuuts te probeer. Soos die jaar toe ek besluit het dat dit die jaar is om ʼn groente tuin te maak…

Dit het alles begin met ʼn mielie. Of ʼn foto van ʼn mielie, om meer presies te wees. Sien, ek het hierdie veelkleurige mielies op Miesies Google raak gesien en ek het dadelik besluit ek wil sulke mielies hê. Wat ek self geplant het en dan kan ek op BakkiesBlad ook brag met my groente. Ek het gesoek en uiteindelik ʼn plek gekry wat sulke saad verkoop. En met die soek het ek op die mooiste sonneblomme, pampoene en uie afgekom. Ek terstond van die saad gekoop.

“Waar is jou omgespitte tuin, Anna?” wou OMR weet. “Omgespit? Tuin? Waar?” wou ek wat Anna is verdwaas weet. “Waar gaan jy al die goed plant?” wou OMR weet. “Het klaar geplant,” het ek onderlangs gemompel. Met een kyk het hy omgedraai en my net so in onkunde laat staan.

Vroeg elke oggend het ek die tuin gaan water gee en gedroom oor gekleurde mielies en sonneblomme wat meters hoog staan. Ek het sommer gedroom oor mielies wat anders smaak. Die rooi pitte sou soos strawberries proe, die wit pitte soos mielies, die groen pitte soos druiwe, die oranje pitte soos nartjies, en so het my lys aangegaan oor die wonderwerke wat stadig maar seker besig was om te groei.

Die pampoene het orals gerank, sommer teen die boom ook op. Die sonneblomme het gegroei en begin blomme maak, die uie was hard besig om te ui en die mielies het net wild gegroei. Ek was so trots op my tuin dat ek net vir OMR moes wys hoe alles groei. Hy was so lanklaas in die tuin gewees, dit was asof hy die plek vermy het. Maar kyk moes hy kom kyk…

“Anna, wat op dees aarde gaan hier aan?” het hy heel besorgd gevra. “My tuin, ek wys jou my tuin. Kan jy dan nie sien hoe alles groei nie?” wou ek vies weet terwyl ek orals my plante wys. Hier in my binneste het ek gevoel hier kom groot moeilikheid aan. “Anna, hierdie was ʼn tuin gewees! Let wel, gewees! Nou is dit ʼn oerwoud van etniese proporsies,” het hy kwaai van hom laat hoor. “Kyk waar gaan jou pampoene heen. In my vrugtebome in. Jou sonneblomme verdelg my rose en kappertjies, jou mielies… Nee wag, laat ek liewers loop. Jou uie! Dit groei soos hare op ʼn hond in my eens netjiese beddings,” storm hy voort en verdwyn in die huis in, goed moerig vir my.

Nou kyk, ek weet rêrig nie waaroor hy so tekere gegaan het nie. Maar nou ja, miskien moes ek nie net my saadjies orals waar ʼn gaatjie was ingedruk het nie… sien, my planne werk nie altyd uit nie. En die mielies het ook nie soos ander goed geproe nie. Net soos gewone mielies… OMR was reg gewees.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *