Community News

A.g.v. omstandighede

Michele du Plessis

Soms gee die lewe mens ʼn dwarsklap, sommer so onverwags. Soms gaan mens net aan en aan en probeer jou beste om te cope met die opdraandes. Maar wat doen jy as die opdraandes te hoog is en jou asem te min is? Wat doen jy as jy jou bes probeer maar die een terugslag na die ander tref jou?

Daar word altyd gesê dat ander mense se boeke duister is en dat mens nooit die waarheid sal weet nie, maar omdat ons mense is, sal ons tog maar ons bedenkinge opsy skuif en probeer help. Alles oor daardie menslikheid wat jy veronderstel is om saam met jou rond te dra. Sommiges van ons verloor sulke stukkies menslikheid soos wat die jare kom en gaan en dan is daar daardie mense wat jou verlore stukkies menslikheid optel en saamdra.

Elize Potgieter is so ʼn mens. Sy het soveel omgee vir haar medemens want sy het ook haar eie hartseer verhaal. Mens kan amper se: Done that, got the T-shirt. Hierdie omgee vir haar medemens het deur die fees seisoen weereens na vore getree met die gesin wat hulp nodig gehad het. Sonder om te skroom het sy hulle van die een vakansie oord aangery na die ander, en hulp gevra vir die mense wat haweloos is. Elmarie en Ben Bianchina en Elmarie se twee kinders, ʼn seun en ʼn dogter, se kosbaarste besittings is twee tente wat hulle ʼn dak oor die kop gegee het en beskutting teen die elemente.

Ben en Elmarie se storie is hartseer; dit sluit die dood van haar een seun in. Ben is ʼn diabeet wat vier maal per dag insulien inspuitings toedien, maar hy praat met groot lof van die Sabie Hospitaal en ons dokters. Hierdie mense het alles verloor en as Elise nie ingespring het en gehelp het nie, was hulle slegter daaraan toe. Vele Sabianers het hulle harte en beursies oop gemaak om hierdie mense te help. Ongelukkig kon hulle nie verder bekostig om in die karavaan park te bly nie en is beveel om te die park te verlaat.

Weereens het Elize tot hulle redding gekom. Hulle bly nou in hulle tente in haar erf en sy help waar sy kan. Gedurende die onderhoud wat GPS News met Ben en Elmarie gevoer het, het beide van hulle daarop klem gelê dat hulle werk soek. “Ons sal enige iets doen om net geld te verdien en om vir die kinders te kan sorg.” Wat opvallend was is die netjiese voorkoms van die seun en dogter en hulle uiters goeie maniere.

Hierdie mense kort hulp. So maklik soos dit. Ben en Elmarie moet werk kry en die kinders moet skool toe gaan. Saam met al die teëspoed wat hierdie mense ervaar het, was daar tog ook geluk by die ongeluk. Hulle het in Sabie beland, ʼn dorp waar mense nog omgee en wat reeds soveel gedoen en gegee het. Veral Elize Potgieter. As daar mense is wat kan help om hierdie gesin ʼn hupstoot te gee om weer hulle voete te vind, kontak asseblief vir Elize op 061 190 4319. Alle hulp word werklik waardeer.

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *