Social

RADIO VERVOLGVERHAAL, “SADE VAN GENADE”

Neem deeltjies van die liefdesverhaal uit Gone with the Wind, die grutonele uit Schindler’s List, die uithouvermoë van Madame X  en familieliefdes uit Die Du Plooy’s van Soetmelksvlei, en jy het ʼn radiovervolgverhaal wat strek oor 80 jaar, vanaf 1 September 1939 met die Nazi-inval in Pole tot vandag in Nelspruit.

Sade Van Genade is die Afrikaanse titel vir ʼn nuwe radiovervolgverhaal, gebaseer op die Laeveld ikoon, Katja Kowalec, se aangrypende lewensverhaal Those Magnificent Sunflower Seeds.

Roelf van Jaarsveld, tans aanbieder by Radio Laeveld, wat vir baie jare in die radio-, film- en amateurtoneelbedryf  betrokke was, loop al lank met die gedagte dat Katja se boek ʼn groter gehoor regverdig.

“Ons het eers maande lank saam met Katja gesit en stemopnames maak, met die oog daarop dat sy self haar storie moet vertel. Ek het besef dat dit te tydsaam sal wees. Om ʼn rolprent daarvan te maak is ideaal maar sal te duur wees. Dus, hoekom nie ʼn radio vervolgverhaal nie? In Afrikaans natuurlik! Want sy is deesdae Afrikaanssprekend!”

Met Roelf se ondervinding met talle radiodramas, waar hy skouers saam met van die voorste skrywers en akteurs geskuur het (Chris Barnard, Roelf Jacobs, Jacques Loots, Anna Neethling-Pohl, Fanus Rautenbach, Daan Retief, en baie ander) en daarna 15 jaar in die film- en TV-bedryf (Jamie Uys, Daan Retief,  Elmo de Witt, Philo Pieterse, ens.) het hy die bedryf dopgehou en geleer. Selfs ʼn paar dokumentêre rolprente se navorsing gedoen en kort films se tekste geskryf en boonop die regie behartig.

Verlede jaar was hy bevoorreg om saam met André Retief (wyle Daan Retief se seun) en omroeper Martin Jansen van Pretoria FM, 26 episodes van die Nuwe Staal Burger vir Maroela Media, op te neem, wat aan talle gemeenskapradiostasies gratis gebied is. Elk het 10 episodes geskryf en Roelf het al 26 episodes se regie waargeneem.

Hoekom “Sade van Genade”?

Roelf verduidelik: “Ek wou ʼn Afrikaanse titel hê. Afgesien van die feit dat die  Sunflower Seeds haar poort na vryheid was, vind jy deurgaans in haar boek dat daar oral Sonneblomsaadjies van geloof val… saadjies wat ontkiem om haar vas te hou, op te beur, sterker te maak om uiteindelik – deur God se genade – vandag steeds opgeruimd met vaste geloof in haar Almagtige Vader te kan leef. Ten spyte van haar 94 jarige ouderdom! Dus kon ek nie ʼn ander of beter titel kry as Sade van Genade nie. Want waardeur sy moes gaan en steeds leef… is alles genade!”

“Uiteraard sal ek wou sien dat die projek deur ons eie radiostasie vervaardig word, mits ek die regie kan behartig. Deurgaans word gebruik gemaak van outentieke byklanke uit die WW2, so ook radioberigte deur Hitler, Britse premier Chamberlain, Churchill en ook veldmaarskalk Jan Smuts. Dit gee die verhaal geloofwaardigheid. Maar om hierdie verhaal op te neem gaan fondse benodig. Daarom soek ons na ʼn borg. En omdat dit tog uiteindelik ʼn Laeveldstorie is, soek ons ʼn Laeveldborg!  Maar vanselfsprekend ʼn borg wat se produkte landswyd bekombaar is.”

Volgende jaar op 1 September 2019, is dit presies 80 jaar dat WW2 begin het met die inval in Pole. Is dit belangrik dat die verhaal uitgesaai moet word?

Roelf:  “Beslis. Ons jongmense weet nie meer wat gebeur het nie. Baie van ons weet nie meer wat dit is om swaar te kry en uit te hou nie. En les bes – om te verhoed dat ʼn wêreldoorlog nie weer moet plaasvind nie!  Nooit nie!”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *