Genesing uit die natuur

Giftige plante

Michele du Plessis

Nie alle plante is voordelig nie; sommiges kan jou baie siek of  selfs dood maak. Baie keer is die simptome wat op die eet van party giftige plante volg, baie soos dié ná ’n oordosis hart- of maagmedisyne. Gelukkig word betreklik min mense deur plante vergiftig, omdat ’n mens dit normaalweg sal uitspoeg as gevolg van die slegte smaak.

Sommige plante se sade en peule lyk doodonskuldig. So ook die wolfsboontjie, ook genoem lupine (of lupien). Dit is ’n peuldraende jaarplant, waarvan die blou, geel, wit en pers blomme al menigte blomtuine verfraai het.  As peulgewas is dit inderdaad nuttig om vry stikstof te bind en sodoende die grond te verryk. Reeds in die 1960’s het wetenskaplikes daarop gewys dat dragtige koeie ʼn groot risiko loop om kalwers te kry wat aan die “mismaakte-kalf-sindroom” ly. Daar is nie sekerheid oor hoe lupines die mens affekteer nie.

Soms is alle dele van plante soos bv. die selonsroos, giftig, en by ander net in ʼn bepaalde deel van die plant, soos bv. rabarber. Terwyl mense graag aan die steel van die rabarber smul, is daar ‘n giftige oksalaat in die blare van die rabarber. Ons giftigste plant is die gifblaar, waarvan die vrugte in magou (“veldslaai”) gebruik word. Die doodgewone, gesonde, ondergrondse aartappel se blare en tamatie-agtige vruggies wat bogronds groei, is giftig.

Daar is baie verskille in die simptome van plantvergiftigings, maar die meeste gifplante irriteer die slymvlies van die ingewandskanaal en veroorsaak mislikheid, braking en/of buikkrampe en diarree. Versmoring is nog ’n moontlike gevolg van plantvergiftiging.

Plante waarvan ’n mens dit glad nie sou verwag nie, kan ook giftig wees, soos bv. broodbome. Die broodboom Encephalartos lehmanii, algemeen bekend as die Karoo-sikadee, is inheems in die provinsie Oos-Kaap in Suid-Afrika. Broodbome lyk soos palms, maar is nie. Wetenskaplikes reken hulle was die dominante soort plante in die tyd van die dinosourusse. Die vroulike broodboom se keëls lê in die kruin van die plant soos in ’n blarebak, en dié saad is  baie giftig vir die mens.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *