Alternatiewe Anna

Alternatiewe Anna

Ek wat Anna is, is erg bekommerd. Nie sommer hieroor of daaroor nie, o nee. Ek bekommer my siek oor Krismis liggies en ʼn Krismis boom. Sien, die hele ding het begin met Eishkom se “sorry-niks-electric-tye”. Wat gaan gebeur as daar nie eers een ou liggie twinkle op Oukersaand of op Krismis nie? Die hele atmosfeer gaan in sy whatever in wees. En nog ʼn ding: Hoe maak mens Krismis kos as daar niks ‘lectric is nie?

Nou ek het gereken ek kan van die probleem oplos en voorbereiding tref vir ʼn donker Krismis. Heel eerste wat ek gedoen het is die Krismis boompie. Aangesien die ding so ietwat fake is en Old Man River my verbied het om ʼn weeskind-boompie langs die pad te pluk en huis toe te bring vir Krismis, sal die groen affêre moet deug.

Ek het orals hierdie klein verjaarsdag kersies opgekoop; dit en hierdie sonder-electric-werk-met-batteries stringe liggies. Daar is geen manier dat ek gaan toelaat dat die kragtelose elektriese reus my Krismis gaan verrinneweer nie. Ek het sommer genoeg gomstokkies gekoop wat in die gomgeweertjie moet aangaan want ek glo mos eerder te veel as te min. Dieselfde met Krismis kos, maar ek en OMR debatteer nog oor hoeveel en wat…

Nou het ek hierdie boompie staan gemaak op die kombuistafel, kersies en gomgeweer gereed. Met die gewaggery dat die geweertjie nou moet warm word, het ek solank wyn geskink (geskep) vir myself want hierdie gaan warm werk wees. Wyn vra nie vra, wyn verstaan, sê mense mos altyd. Teen die tyd wat die geweertjie warm genoeg is, was die glas halfleeg, maar ek het vroumoedig aan die werk gespring.

Eers ʼn druppel gom op die takkie, plant ʼn kersie, en doen die volgende tak. Al in die rondte, tak vir tak, kersie vir kersie, kleurvol en uiters vrolik. Ag, dit was nie te lank nie of daar is gom orals en gesmelte kersies wat nie wil staan in die gomdruppels nie. Maar ek laat my nie onder kry nie. Toe plant ek maar daardie kersies se voetstukkies in die gom en dan druk ek die kersie in. Tog te mooi.

Net toe ek klaar is, kom OMR by die huis aan. “Anna, wat dink jy doen jy?” wil hy heel befoeterd weet. “Ek maak seker dat Eishkom nie ons Krismis verfonkfaai nie. En nou gaan ek die boompie staanmaak en kyk of dit mooi genoeg is,” antwoord ek hom. Met die is hy daaruit, reguit garage toe. Ewe rustig steek ek kersie vir kersie aan en dink dit lyk tog te mooi. Vir ʼn volle 30 sekondes lank…

Met eens besluit al hierdie koekkersies om nuwe lewe aan my boompie te gee en daar raak die hele ding aan die brand! Ek gil benoud vir OMR om te kom help, maar hy staan reeds in die deur, brandblusser gereed en daar trek hy los op my brandende boompie. Met die bly ek in die slag, die boompie sterf ʼn onnatuurlike dood en alles is Krismis wit in die kombuis. Amper soos ʼn sneeu-ontploffing… en ek die ronde sneeuvrou.

Veel later toe ons die gemors skoon gemaak het en die wêreld nie meer vol sneeu lê nie, kom OMR met ʼn wortel aangestap. “Wat maak jy?” wil ek benoud weet. “Ek versier net my sneeuvrou. Die wortel gaan die neus uitmaak…” Ag nou ja… Ek sal maar aan ʼn ander plan moet dink.

 

Leave a Reply