Bietjie Herderstassie tee…

Entertainment

Michéle du Plessis

Capsella bursa-pastoris, herderstassie of Shepard purse, het vele name, waaronder Lady’s purse, Mother’s-Heart, Sanguinary, Shepherd’s Heart en Bourse-à-Pasteur, Bourse de Capucin enkele is. Tog, die naam van die plantjie tower ʼn romantiese beeld op van lang vervloë dae waar die herder sy kos saamgedra het en dit in ʼn pastorale landskap, so reg uit ʼn Nicolas Poussin skildery, geëet het.

Herderstassie dra driehoekige plat vrugte, is deel van die mosterdfamilie Brassicaceae wat tot 0.5m groot word. Dit is die tweede mees algemene onkruid in die wêreld, kom in gematigde streke voor en groei graag daar waar die grond versteur is.

Die mediese probleme waarvoor die plant gebruik kan word, sluit in hart en sirkulasie probleme, insluitende ligte hartversaking, hoofpyn, maagsweer, bloed in die urien, diarree en blaasinfeksies. Vroue gebruik die plant vir premenstruele probleme, swaar maandstondes en menstruele krampe. Dit kan ook aangewend word op die vel, soos in die geval van ligte brandwonde, skrape en snye en selfs ook vir neusbloeding. Die plant kan ook vir inflammasie en infeksies gebruik word aangesien dit antibakteriële eienskappe het. Die blare van die plant kan in ʼn pap (poultice) direk op seer ledemate gebruik word. Jy kan dit ook uitwendig op jou hond of kat gebruik.

Swanger vroue moet liefs nie herderstassie gebruik nie, want dit mag lei tot kontraksies. Die gebruik van herderstassie gedurende borsvoeding word nie aanbeveel nie. Gebruik van die plant mag ook slaperigheid veroorsaak en moet nie saam met kalmeermiddels gebruik word nie. Persone wat medikasie vir hartprobleme en skildklier probleem gebruik moet eers met hul geneesheer praat voordat dit medisinaal gebruik word.

Herderstassie kan as ʼn tee gebruik word, maar begin eers met een koppie en kyk of jy enige nagevolge ondervind. Dit is ook beskikbaar by gesondheidswinkels en apteke in die vorm van ʼn tinktuur. Volg die vervaardiger se gebruiksaanwysings.

Neem altyd in ag dat medisinale plante ook allergieë kan veroorsaak. Die onkundige gebruik van medisinale plante kan uiters gevaarlik wees en dit word aanbeveel dat jy my jou dokter of apteker praat voordat jy medisinale plant produkte saam met voorgeskrewe medikasie gebruik.

Leave a Reply