Haksel by die karmenaadjie

Entertainment

Michele du Plessis

Met die verloop van tyd het ons koskultuur verander. Benamings vir verskillende disse het in onbruik geraak, soms is ʼn meer moderne woord geskep. Daar is woorde soos karmenaadjie, gebraaide slukderm, pangebakte harsings en gemarineerde viskuite. Sommige van die disse sal die moderne mens groen om die kiewe maak en ander met nostalgie laat terug dink aan kos wat hulle oumas gemaak het.

Niemand stuur meer vandag ʼn karmenaadjie met haksel daarby vir hul bure nie; heelwaarskynlik weet hulle nie eens wie hulle bure is nie. “Tradisioneel het die karmenaadjie minstens ‘n stukkie vars spek en wors ingesluit. In sommige streke was die gebruik om ook vars vleis, haksel of sult by te sit.” (HW Claassens, Die Geskiedenis van Boerekos 1652-1806)

Maar wat op dees aarde is haksel nou eintlik? “Haksel (ook genoem suurkos of harslagkos) was sedert Van Riebeeck se tyd tot in die twintigste eeu bekende slagdagkos vir Afrikaners. Haksel is die harslag van ‘n dier wat met speserye en asyn gekook is en daarna in stukkies gesny is. Dit is teruggeplaas in die sous wat dan verdik is. Die hele harslag – die lewer, niere, milt, soetvleis, hart, slukderm en longe – of slegs ‘n gedeelte van die harslag kon gebruik word. Die gereg met sy verskillende soorte vleis wat saam gebruik word, is waarskynlik van die Arabiere afkomstig en is in die sewentiende eeu in sowel Holland as die res van Europa en die Engelse gebiede berei.”

Haksel is herkenbaar in die veertiende-eeuse Muossleber se resep in Van soeter cokene. Gedurende die tydperk toe dik snye brood as borde gedien het onder arm mense, is hierdie dis dik gemaak sodat dit nie van die brood afloop nie. Tydens die kosskaarste in Van Riebeeck se tyd aan die Kaap, is hierdie veertiende eeuse gereg nie so dik gemaak nie en die omelet bo-op is weg gelaat.

“Die vulselresep in Larousse gastronomique vir Skotse haggis is dieselfde as die wat vir haksel in baie Afrikanerhuise tot in die twintigste eeu gebruik is. Moontlik is haksel ook in die periode 1652 tot 1806 deur sommige Afrikaners as vulsel vir rolpens aangewend. Die benaminge haksel en haggis kom waarskynlik uit die Franse hachis wat afgelei is van die werkwoord hacher wat beteken om op te kap.”

Leave a Reply