Potjiekos is nog steeds koning

Entertainment

Michele du Plessis

Potjiekos is so eg Suid-Afrikaans soos melktert en koeksisters. Almal wat al Potjiekos gemaak het, sal weet dat dit ʼn langsame proses is. Elke Potjiekos kok het dan natuurlik ook sy of haar geheime en manier van doen.

Die pot is natuurlik ʼn drie-been ysterpot wat gemaak is uit gietyster en het ʼn los deksel bo-op. die verskillende groottes begin by ʼn ¼ tot so groot as ʼn nommer 25. Vir die gemiddelde gesin van 4 tot 6 mense is ‘n nommer 3-pot voldoende. Die pot is verkrygbaar met ‘n ronde bodem met drie pote, of met ‘n plat bodem sonder pote.

Wat die bestanddele aanbetref is dit elke kok se keuse. Bees, skaap, vark, hoender, vis, seekos. Groente soos aartappels, uie, wortels, groenboontjies, sampioene, broccoli, kool, tamaties word gewoonlik bygevoeg. Sommige Potjiekos kokke verkies pap en ander rys as bykos.

Kruie en speserye, sout en peper, knoffel, Kerrie, kaneel, naeltjies, koljander – jy noem dit en iemand sal jou vertel dat hy nie ʼn potjie maak sonder hierdie of daardie kruie of speserye nie. Dan is daar ook die geheelonthouers: geen sout, peper, kruie of speserye nie. Vloeistowwe wat gedurende die kook proses bygevoeg word wissel van water na wyn na gaskoeldrank of bier. Tog verkies die meeste Potjiekos kokke om die wyn, bier, rum en Coke, whiskey en water self te drink terwyl hulle die pot noukeurig dophou…

As dit by die vuurmaak kom is elke kok ʼn meester op sy eie gebied. Die vuur word aan die een kant aan die gang gehou en die kole word gebruik onder die pot. Soos wat daar kole vorm, word dit onder, en somtyds bo op die ysterpot gepak om die optimale temperatuur te verkry. Dit kan enige iets van twee tot agt ure vat om potjiekos te maak, afhangende van die soort vleis en ander bestanddele wat gebruik word. Verskillende tegnieke word gebruik, maar die algemeenste is om die bestanddele in lae te plaas, en glad nie te roer nie

Met die bedien slag word daar dan met ‘n groot lepel in een skep van onder tot bo ‘n bietjie van alles geskep.

Hoe dit ook al sy, of jy nou ʼn Potjiekos kompetisie wenner is of net daardie kok is wat daarvan hou om self ʼn potjie te maak, jy sal jou voorkeure en afkeure het. Maar een ding staan soos ʼn paal bo water; teen die tyd dat die potjie reg is vir skep, is almal so honger dat jy nie ʼn enige klagtes oor jou Potjiekos vermoë sal hoor nie…

Leave a Reply