Ek kannie die konsep verstaan nie

Alternatiewe Anna

Ek kan nie hierdie ding van “jouself in die natuur vind”, verstaan nie. Die hele konsep gaan my verstand te bowe. Volgens my kan mens jouself mos maar op die bank voor die TV ook mos vind. Al wat ek nog ooit in die natuur gevind het, het my vreesbevange gelaat en gillende laat weghardloop.

Ek hoor mos nou die dag die vrou wat sê sy wil met haar voete in die kabbelende water van die rivier sit en net ‘wees’. Vrou, besef jy wat alles in daardie rivier is? Lees bietjie die GPS News en jy sal verstaan van eekollie en allerhande gifstowwe, soos poef ook. As ek emoticons hier kon gebruik het, sou dit daardie naar groen gesiggie gewees het…

Anyway, om terug te kom na die water toe. Buiten al hierdie vieslike goeters, is daar bloedsuiers ook in die water. Sulke slymerige slak goed met bekke wat soos alien monde lyk. Hulle byt vas en laat gaan eers weer as hulle jou soos die bloedbank vampiere leeg gesuip het. waarna hulle sommer net afval, hik-dik van jou bloed. Nee, ek gee nie om dat dit eers as medisyne gebruik was nie. of nog gebruik word nie. die tegnologie het ver genoeg gevorder dat ek nie vrywilliglik bloedsuiers op my sal laat feast nie.

Wat van al die ander goggas in die water? Krappe onder klippe, reuse forelle wat aan jou kan knibbel, bloeddorstige muskiete, oorywerige muggies en heaven forbid, ʼn slang of twee? Me thinks hierdie natuur ding is uiters gevaarlik. As jy nou nadat jy jou voete gevind het nadat jy in die kabbelende stroompie jou gat gesien het, en jy met jou nat, koue lyf iewers in die son wil sit om te ontdooi, vind jy net bome en bome om jou. Dan sal die wind ook nog begin waai asof sy vir jou lag en die boomtoppe so rondskud dat al spring jy ook hoe rond, jy nie ʼn druppel son sal vind nie.

Ek het al baie my rieme so styf geloop met hierdie natuur stukkie. Soos om te gaan stap. Een oomblik skyn die son tog te mooi en die volgende oomblik slaan die bliksemstrale 10 sentimeter van jou voet in die grond in vas. As jy nie al klaar nat was nie, sou jy nou gewees het. Just saying. Ek persoonlik reken dat dit baie veiliger is om ʼn natuur dokumentêr op die TV te kyk. Iets soos Twilight. Daar is bloeddorstige vlermuise en wolwe in. En arme bokkies wat die prooi word van either die vlermuise of die wolwe.

Nee wat, knus voor die TV met ʼn glas wyn vir die senuwees as die vlermuise teen ander vlermuise oorlog maak, is genoeg opwinding vir my, dankie. Vrou, ek weet nie wat jy hoop om in die natuur te gaan vind nie, maar pasop maar vir die brandnetels. Dit maak nie ʼn baie lekker sagte bedjie soos ons gedink het nie.  Dit brand soos die blou bliksem om kaal boude. Vra maar vir my en Old Man River. Die natuur is vol gevare…

 

Leave a Reply